Friday, October 30, 2009

Waterwys?

- Pieter Viljoen -

Moeisaam sukkel die ou stroompie water om al die krake en gate in die leivoor langs Kerk- en Pastoriestraat gelyk te maak, terwyl ek hom aanmoedig om tog net my dam te haal. Dis 'n stryd teen die kerkhorlosie, want dié wag nie vir die leistroom om by my erf te kom voordat hy sy ses slae slaan nie. En in my tuin wag perske en appelkoos, pampoen en aartappel, roosboom en wingerdstok - vaal van die dors - op hul weeklikse lafenis uit die bergstroom.

So het vele van ons leiwatergebruikers die afgelope weke gespartel en gespook om ons tuine aan die gang te hou en moes noodgedwonge ten duurste selfs munisipale water gebruik.

Ek het begrip daarvoor en waardering vir die feit dat daar 'n meer doeltreffende pypstelsel vir die lewering van die bergstroom in aanbou is. Die betrokkenes verdien seker meer dank en erkenning as wat hulle tans ontvang. En ons hele dorp gaan daarby baat; nie net leiwater-gebruikers nie!

Saterdag hou ek die watertjie in die sloot by Pep Stores dop en wonder hardop hoe sal my deeltjie Maandag lyk? En toe, Sondag!TOE REËN DIT! Heerlike, lieflike reën. Kyk oor die straat berg se kant toe - die berg is nog vaal soos die reën uitsak; die stormwatersloot oorkant die straat golf met bruin modderwater. Kyk oor die tuin en die reëndruppels borrel in die plasse water tussen die rose en vrugtebome. Here, mag dit nog reën; mag dit wyd oor ons velde reën; mag dit oor die droë Suid-Kaap reën - daar waar die droogtegreep so lankal knel. EN DIT HÉT!

En so saam met die opwinding en blyheid, wel dankbaarheid op diep uit my hart. Wie is ek, ons , om so 'n seën te ontvang? En dan maak dit my nederig, en skaam oor my twyfel. Ja, die stoeiery oor water maak mens soms twyfel aan jou medemens se integriteit, aan God se voorsienigheid. Vergewe tog, o Heer!

Maandagmôre was lanklaas so mooi; leiwater lanklaas so oorgenoeg; die tuin lanklaas so lewendig - druipnat die aartappels in blom; roosknoppe hang swaar belaai met waterdruppels; skoenspore sink weg in die sagte aarde; die vroeë perskes se wangetjies skyn rooi. Daar hang 'n belofte van oes oor ons tuin. Die arbeid was nie vergeefs. Die hoop beskaam nie.

Droogtes mag weer kom. Help my om te onthou: U is die Een wat sorg!

Uit slote en plas, uit geurende gras,
styg 'n danklied op ten hemel
(DIE VLAKTE - Jan F.E. Celliers)

No comments: