Friday, October 30, 2009

Die Beste Skou in 18 Jaar!


- Miems Theron -

Kenners wil dit hê dat die Prince Albert Landbouskou wat hierdie jaar tussen 8 en 10 Oktober plaasgevind het, die heel beste skou in omtrent 18 jaar was. Ons almal weet ‘n skou gebeur nie net nie. Harde handearbeid, bloed, sweet, tyd en geld is ingespit en omgedolwe ter voorbereiding van die grootste geleentheid van die jaar - die Prince Albert Landbouskou.

Van Woensdag af krioel dit op die skougronde om alles in gereedheid te bring. Die twee sale word uitgevee, tafels word ingedra . Buite op die grasperk word tafels, sambrele en banke, geborg deur Castle, netjies gerangskik voor die saal. Die stalle en krale is reg vir die geleentheid. Die tafel is gedek .

Donderdag breek aan en die boere kom met hulle diere aangery, nie net om te kompeteer nie, maar ook sommer om ou vriendskapsbande te hernu en gesellig te verkeer. ‘n Rekordgetal Boerbokke word aangery, Merino’s, Wit- en Swartkop Dorpers vul die krale. Daar is ‘n uitstalling met foto’s van diere wat deur wilde diere aangeval en verniel is. Ore is afgebyt, nie afgesny deur die boere soos sommige gedink het nie, maar afgevreet deur jakkalse! Nog nooit so iets gesien nie. Dis immers waaroor ‘n landbouskou gaan - om in te lig en kennis uit te brei.

Reinard van Onselen plant olyfbome, sny die gras, maak nat en hou die terrein vir 12 maande van die jaar in stand - ‘n ondankbare werk! Die jong boertjies, met die klem op jong, werk al maande elke dag by die skougronde. Hulle tyd is duur, maar hulle het ‘n passie vir landbousake en is verbete dat die skou moet voortgaan en ‘n sukses moet wees. Hulle bewys die doemprofete verkeerd – die skou is nie op sy laaste bene nie.

Die nywerheidsuitstalling bly nie agter nie. Ou veteraan trekkers, motorfietse en die nuutste masjinerie, waaronder John Deere, wat elke jaar ons skou ondersteun, pryk in die stalletjies op die grasperk. Binne in die saal wissel dit van juwele-, houtwerk-, klere- tot gereedskapkraampies. By die Huisvlytafdeling versier die kinderkuns van Hoërskool Zwartberg die mure.

Die gemeenskap se handwerk word pragtig uitgestal deur Dalene Coetzee en Ronél McKnight en daar word gekompeteer in gebak en gepreserveerde produkte.

Donderdagaand is die vertonersonthaal waarheen al die vertoners en borge uitgenooi en onthaal word. Madrie Rossouw en ma Johanna Luttig doen die spyseniering. Jy weet voor die tyd dit sal aan al die verwagtinge voldoen. Ons mae protesteer ook glad nie. Ons eet en ons gesels en meng met almal tot laat- aand. Ons gasspreker vir die aand, Breyton Milford, Projekbestuurder van Agri Expo spreek ons toe. Met sy Namakwalandse aksent boei hy een en almal.

Vrydagoggend is formeel “beoordelings-dag!” In die krale kan jy sien daar word ernstig geredeneer, fyn gekyk en ferm gevoel. Die boerbokinterstree- kampi-oenskap, gereël deur Jan-Chris Marais, het soveel bokke gelok dat die diere oor twee dae beoordeel moes word. Daar is ook ‘n afdeling vir die opkomende boere wat sterk ondersteun word. Bravo vir die nuwe boere!

Merino’s

Corné Nel van BKB help Christiaan Marincowitz dat alles klopdisselboom verloop by die Merino’s. Daar was 170 inskrywings en 12 vertoners. Die twee beoordelaars, Pieter Aucamp van Mosselbaai en Keith Coetzee van Williston sê dat die diere van ’n besondere hoë gehalte is.

Die kampioen ram: Kosie Gildenhuys van Riversdal.
Die kampioen ooi: Charl Visagie, van Plattekraal.

Nic Herbst behaal die meeste punte in dié afdeling.

Wol en Bokhaar

Die wol en bokhaar vagkompetisie was van hoogstaande gehalte vanjaar. Hierdie natuurlike vesel word organies op ons ekstensiewe velde gekweek.

Die uitblinkers in dié afdeling was:
Kampioen Fynwolvag: Nic Herbst
Kampioen Mediumwolvag: Chris Marincowitz
Kampioen Sterkwolvag: Chris Marincowitz

Dorpers is beoordeel deur ‘n oud Prince Albert seun, Fanie Müller. Daar was 70 inskrywings en 6 vertoners. Gert Luther van Willowmore was die eienaar van die groot kampioen ram en ooi .

Pragtige perde

Daar was baie hoogtepunte dié dag. Ons was bevoorreg om vanjaar van die topvertoners in Suid-Afrika op die skou te hê om van hul fantastiese mooi Saalperde te vertoon. Hieronder tel vertoners soos Koekie de Villiers van Cradock (Studcor stalle), wie al verskeie male die Suid-Afrikaanse Vyfgang kampioenskappe gewen het en Petro Botha-de Waal van Botha-stalle, Stellenbosch wie al Springbok Ruiterkuns Kaptein was en talle S.A. kampioenskappe verower het te Bloemfontein.

Pieter Hugo van Houtbaai het sy prag vyfgang-perd Speedster kom vertoon. Pieter is die uitgewer van die prestige tyd-skrif, Show Horse. Die Siertuigkampioenskap is gewen deur Karin van Graan van Port Elizabeth met die pragperd River Dance. Francois Dercksen van De Bosch stalle, Stellenbosch, het die wonderlike merrie, Let’s Celebrate, vertoon en die 3-Gang kampioenskap gebuit, terwyl Koekie De Villiers op die War Lord afstammeling, War Survivor van Henno van Graan, die Groot 5-Gang kampioen vertoon het.

Die Ruiterkuns Klas het baie vertoon en vermaak verskaf. Die volwasse vertoners het self op die klas besluit en self die prysgeld gegee en ernstig teen mekaar meegeding om te bepaal wie die beste ruiter is. Petro de Waal was die wenner. CJ du Plessis, voorsitter van die S.A Beoordelaarsvereniging was die beoordelaar, Jannie Meiring die baanmeester en Nicola van der Westhuizen die aankondiger.

‘n Modeparade was weer op die spys-kaart. Hierdie jaar het ons die room van die modelle hier gehad. Ons “Mevrou Suid-Afrika 2009”, Joani Johnson, Louise Muller, “Mej Tuinroete 2009”, en die modelle Donique Leonard, Lillian Joncker, Naska Nenadi, Mari Douglas, Chané Dutchie, Jeandre de Villiers en Alzan Nel was te sien op die loopplank. Hulle het klere van die Ontwerper Deon Oelofse, in samewerking met die Volstruisbesigheidskamer, Sandra Marais van Co-Co Boutique, Klein Karoo Boutique en Oudtshoorn Surf Wear Shop vertoon. Joani Johnson het haar kroningsrok, goudgeel volstruisleer en vere, gedra. Die rok bestaan uit ‘n volstruisleer korsetstyl-bostuk, afgewerk met Swarovsky-kristalle.
Die romp bestaan uit ses lae valle wat wyd uitloop na onder en Deon Oelofse het 24 meter rouge volstruisvere gebruik.

Kinders

Intussen het die bestuur ook nie vergeet van ons kinders nie. Vroeg Saterdagoggend het hulle o.l.v. Verlé le Grange aan die Kleuterkok-kompetisie deelgeneem. Verder het Milestone Entertainment ook gesorg dat die kortvolk hele dag vermaak word in die SPS Luttig-saal.

Trompoppies

Bridgton Sekondêre Skool se trompoppies het ons ook vermaak met hulle passies en formasies. Dit was regtig ‘n plesier om hulle dop te hou en ons weet ure se sweet is ook in daardie vertoning wat hulle vir ons gelewer het.

Die slaglamkompetisie is nog iets wat eie aan Prince Albert se skou is. Tien groepe van drie slaglammers het meegeding in katagorieë, beste enkel lam op hoef en karkas aan die haak.
Die kompetisie was vanjaar besonder sterk en gesond. Verskillende skaaprasse ding ook mee en boere gebruik die geleentheid om hulle skape te vergelyk met ander in die distrik.

Die lammers is Vrydag opgeveil deur Roelie Myburgh. Die publiek word dan die kans gegun om van die beste, uitsoek groepe slaglammers direk van die boer te koop. Net so jammer dat die publiek nie dié geleentheid ten volle benut om prima vleis teen ‘n baie billike prys aan te koop vir die vrieskas nie.

Na al die spanning van die beoordeling kon ons Vrydagaand lekker ontspan met alles wat goed was vir die siel: Steak-ete en musiek. En was die steak nie uit die boonste rakke nie! Reinard van Onselen en Samie Luttig (jnr) het ten minste 230 gaste laat proe hoe steak nou eintlik moet smaak. Vars en sag soos murg. Dankie aan Faan de Wit wat elke steak persoonlik uitgesoek en gesny het. Die dogters van Hoërskool Zwartberg was weer op hulle pos en het omtrent steak aangedra! ‘n Reuse sukses! Die musiek en sang van die twee dametjies Lindie Meyer en Le-Lue het die skougangers se voete laat jeuk en dit was ook nie lank nie of almal het dit uitgekap op die stoep - sommige selfs sonder skoene! Almal het moeg gaan slaap, want Saterdag lê nog voor en moet nog geleef word.

Alle vertoners was dit eens oor ‘n paar dinge: die mooi dorp, goedversorgde skougronde en vriendelike mense van Prince Albert met ongelooflike gasvryheid. Groot belofte van nog meer saalperde vir volgende jaar is gemaak en ons kan voorwaar nie wag om dit te beleef nie.

Ons wil net ons gelukwense aan Samie Luttig Jnr en sy bestuur oordra vir ‘n baie suksesvolle skou. Ons dank ook aan alle borge en vertoners. Geluk aan al die wenners, en Prince Albert sê baie dankie aan die Dercksens! Elke jaar word daar ook beoog om tydens die skou iets vir die dames te reël. Sonder hulle sou dit net nie moontlik kon wees nie. Doen so voort!

No comments: