Monday, November 30, 2009

Sokkertoernooi ondersteun die PAAK

- Goliath Lottering -

Die Prince Albert Advies Kantoor (PAAK) het met die 2010 Wêreld-beker kampioenskap in gedagte ‘n sokkertoernooi op 14 November georganiseer. ‘n Heerlike ontbyt, visbraai en potjiekos vir middagete is aangebied. Nadine Appies van die Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit was die gas-spreker. Sy het oor MIV/VIGS gepraat en haar boodskap het oor voorkoming gehandel.

Rangers van Kaapstad, Stars F.C., Red Pumas, Orlando Spurs, F.C.United, Untouchables XI, Striking Eagles en Super Strikers, het almal deelgeneem aan die toernooi. Die wenspan was Stars FC

Die PAAK het die gemeenskap hartlik bedank vir hulle ondersteuning. Die voorsitter, Goliath Lottering, het sy personeel geloof vir die manier hoe hulle die aangeleentheid georganiseer het. “Met Auntie Tiekie aan die spits gaan ons nog baie duisende rande insamel. Ons wil ook baie dankie sê aan al die sokker klubs wat deel geneem het,” het hy gesê.

Volgens Lottering is die fondse hoofsaaklik ingesamel om die PAAK in staat te stel om selfonderhoubaar te word. “ ‘n Pragtige bedrag van R28 920.60 is ingesamel waarvan die wins R17 070.10 was. Ons moet weer eens die gemeenskap hartlik bedank vir hul ondersteuning. Dit is ‘n teken dat die organisasie haar besig hou met die goeie dinge.

Lottering het beklemtoon dat PAAK aan samewerking glo en graag met almal wil saamwerk. “Vir ons is die mense belangrik vir wie ons moet help. Ons glo verder met die hulp van ons Meester gaan ons nog baie hoogtes bereik.”

No comments: