Monday, November 30, 2009

VLV Tagtig Jaar Oud

-Ronél McKnight-

Op Vrydag 16 Oktober is landwyd fees gevier om die tagtigjarige bestaan van die VLV te vier. Ook op Prince Albert is die verjaarsdag-kersies aangesteek.

Ongeveer 20 lede was teenwoordig om in die feesvieringe te deel. Tannie Hester van Vuuren tree na 18 jaar as voorsitter uit. Dalene Coetzee onderneem as nuwe voorsitter om die VLV op die pad vorentoe te neem. Sy wil graag met nuwe idees, om by die moderne behoeftes aan te pas, die volgende voetspore trap. Om aan te pas sal verseker dat daar altyd 'n hedendaagse organisasie is om aan 'n volgende geslag te oorhandig.

Tydens die verrigtinge was vorige voorsitters teenwoordig wat elk 'n kort oorsig oor die hoogtepunte van hulle tyd as voorsitter gelewer het. Interessante staaltjies is vertel van die gebeure wat lankal vergete is. En ja, ons het weer besef vandag se bejaardes was nie altyd bejaard nie! Hulle was op hulle jong dae vlytige vroue wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie en hulle het geweet van wérk!

Elke oud-voorsitter het ‘n kersie aangesteek om die tagtig jaar van die VLV te vier. Ook namens dié wat nie die verrigtinge kon bywoon nie. Tee en verversings is bedien waarna elkeen ‘n kolwyntjie met ‘n kers op ontvang het. Die seën en heildronk is deur Dalene Coetzee gelees waarna almal hulle kersies doodgeblaas het. “Happy Birthday” is gesing en ‘n klomp kleurvolle ballonne losgelaat.

Gedurende die verrigtinge is goeie herinne-ringe opgeroep deur ‘n skyfievertoning oor die VLV op Prince Albert deur die jare.

Die VLV kan slegs vorentoe gaan as almal dieselfde passie deel: die opvoeding van volwassenes.

No comments: