Monday, November 30, 2009

Kankerstap 2009

- Reinie Smit -

Vrydag, 30 Oktober, het Toktokkie die kleuterskole besoek – Bambino, Wildekanisland, Miernes – met goeie raad oor ‘n gesonde leefwyse. Om daad by die woord te voeg, het ons ons eie “Kankerstappies” gehou (“oefen gereeld!”)

Op Saterdag, 31 Oktober, het ons jaarlikse Kankerstap ongeveer 140 deelnemers opgelewer – van babas in stootwaentjies, kinders op fietse tot ons eie “Golden Games”. Ons het 08h00 weggespring en teen 09h00 het die laastes klaargemaak.

‘n Groot dankie aan almal wat ons ondersteun het; almal wat gehelp het om deelnemers te werf (Sammy Delport, Juliana van der Westhuizen, Michelle May en Andelene Kamfer); Tertius en Hester Jarrard vir jul hulp Saterdagoggend; Hannes van der Westhuizen, Jean Viljoen en George Tait van die Polisie vir jul hulp met die reël van die verkeer; en Alta en Melissa vir jul hulp by die kleuterskole.

Dan wil ek hierdie jaar ‘n spesiale dankie sê aan die onderwysers van Prince Albert Primêr vir hul volgehoue ondersteuning élke jaar. Alhoewel hul atletiek saam met die Kankerstap val en hul dus nie kan deelneem nie, skryf almal (en sommiges se gesinne!) in, om sodoende ook húl bydrae tot Kansa te maak. Jul positiewe gesindheid word deur ons almal raakgesien en waardeer.

Danksy almal se ondersteuning het ons R4992.50 vir KANSA ingesamel.

No comments: