Monday, November 30, 2009

Wildekanisland hou Konsert

Op 6 November 2009 het boeties en sussies, ma’s en pa’s, ouma’s en oupa’s en ander belangstellendes weer reggesit om die Wildekanisse se mannewales op die verhoog te geniet.

Die konsert is adverteer as “21 Favourite Nursery Rhymes with a Twist” en elke ouer se bors het geswel wanneer hulle kleintjies so ewe agter die mikrofoon ingeskuif het om ‘n Engelse versie op te sê. Na die gespanne oomblikke tydens die opsê van die versies, was daar elke keer heerlike opwinding wanneer die karakters in die versie heerlik oor die verhoog heen en weer gedans, -huppel of –spring het.

‘n Reuse spinnekop wat verrassend baie soos Jaydenh Delport gelyk het, het die skare vermaak op ‘n rock weergawe van Itsy Bitsy Spider. Die spinnekop was nie lank alleen in die kollig nie – elke ander lid van die konsert geselskap het in ‘n dansie uitgebreek en kennelik die kans om so lekker rond te beweeg baie geniet.

Daar was pret met Humpty Dumpty, Little Teapot, Polly Put The Kettle On (met Jady Moos wat tee drink asof sy gereeld by die Koningin van Engeland kuier), Wee Willie Winky, Little Miss Muffet, Hey Diddle Diddle en vele meer gediggies.

Benewens was daar ook die mooiste ballet opvoering deur die Wildekanis dogtertjies wat alles behalwe wild was en pragtig op die verhoog rondgedraai en trippel het.

Die Patchwork Theatre het die gehoor vermaak terwyl die kleinspan van kos-tuums moes verander, en almal het heerlik gelag oor die pittige liedjies wat hierdie jong teater-geselskap opgevoer het.

Die tradisionele gradeplegtigheid het van die graad R maats verlang dat hulle ook ‘n nuwerwetse Afrikaanse gediggie moet opsê en hulle het almal met vlieënde vaandels geslaag. Juffrou Jennifer wat in die voorste ry van die gehoor gesit het, het baie in haar noppies gelyk met die spannetjie wat volgende jaar in haar klas gaan sit.

Vader Kersfees het ook van die aand te hore gekom. Hy het opgedaag met ‘n sak vol geskenke – net mooi genoeg vir elke Wildekanis. Nou hoe op aarde kry hy dit reg?

Die dekor verdien ook vermelding – sowat van sterre en liggies het ons lanklaas gesien. Die hele verhoog was omskep in die sprokieswêreld waar elke karaktertjie kon straal in sy of haar rol.

Berlinda Nel en almal wat haar gehelp en ondersteun het moet weer eens komplimenteer word met ‘n pragtige konsert – pragtig hoofsaaklik omdat dit so op-vallend was dat die kinders hulself gate uit geniet het.

No comments: