Monday, November 30, 2009

Willing Hearts Rugbyklub hou ons Naam Hoog

- Jeff Griebelaar -

Ons plaaslike klub het vanjaar weer skitterende rugby gespeel en sy twee spanne is met plekke in die semi-finale van die SWD Presidentsliga beloon. Die wedstryde is op Albertinia gespeel, waar die A-span teen Albertinia Rangers en die B-span teen Riversdal Blues gespeel het.

Ons A-span het uitstekend gespeel en het die wedstryd van die begin af voorlangs beheer en op die aanval en verdediging geskitter. Ons B-span het hul ook goed van hul taak gekwyt maar ongelukkig in die tweede helfte het hulle handdoek ingegooi en toegelaat dat hul opponente hul oorskadu. Daar was tog van die manne wat in die verloorstryd uitgeblink het en Jaco Hendriks, Randall Wagenaar en Adrian Lodewyk het die SWD Plattelandse span gehaal.
Tydens die SWD Intersone Junior Rugby Kompetisie wat na die afloop van die liga gespeel is, is twee van ons spelers vir die SWD Intersone Junior 0/20 span gekies. Ons A-span afrigter, mnr Claude Hendriks was die hoofafrigter en Henry Arries was die hulpafrigter van die Prince Albert/ Beaufort Wes omgewing. Albei het ook die afgelope jaar hul IRB level 1 afrigterskursus suksesvol voltooi en ons stel hulle toegwydheid hoog op prys.

Aan die bestuur van die klub wil ons ook baie dankie vir hul bydrae die afgelope jaar sê. Sonder julle goeie werk sou ons ook nie ons SWD verpligtinge suksesvol kon uitvoer nie. Al het dit somtyds broekskeur gegaan, kan ons trots wees dat ons dit kon verrig. Ons moet almal vir hulle ondersteuning tydens die afloop van die Presidentsliga-finaal hartelik bedank.

No comments: