Monday, November 30, 2009

SWD Amateurwedstryd

- Titus Hendriks -

As voorsitter van Prins Albert Willing Hearts RVK sal ek graag alle rolspelers wil bedank vir die bydrae wat hulle gemaak het tydens die SWD Amateur wedstryd tussen SWD en Grens op 8 Augustus 2009. Die plaaslike Munisipaliteit het alles in hul vermoë gedoen om ons klub te ondersteun en moet hartlik vir hulle pragtige aanbieding van die dag bedank word.

Dit was ‘n geskiedkundige gebeurtenis aangesien dit die eerste keer was dat Prince Albert ‘n provinsiale wedstryd kon aanbied en sodoende as gasheer vir die SWD en Grens rugbyspelers kon optree. Mnre Lewis van Zyl (SWD Sekretaris) en Abie Steenberg (SWD Skeidsregter) was regtig in hul noppies. Met die afloop van die wedstryd het hulle ook laat weet dat Prins Albert ’n SWD Arende wedstryd op die Odendaal Sportgronde sal kan aanbied.

Hulle het bygevoeg dat herstelwerk aan sekere gedeeltes van die gebou en speeloppervlak gedoen sal moet word. Hierdie tekortkominge is aan die Munisipaliteit uitgewys en vir die herstelwerk daarvan gevra. Die klub het intussen ook weer aansoek by die SWD gedoen om volgende jaar ‘n Vodacom wedstryd aan te bied.

Ons glo dat die nodige klein herstelwerk aan die gebou en speeloppervlakte gedoen sal word en dat die Odendaal sportgronde heeltemal reg sal wees om die wedstryd aan te bied. Ons weet dat ons op die rolspelers, wat ‘n bydrae tot die SWD Amateur wedstryd gelewer het, kan staatmaak. Dankie ook aan die klub se spelers en ondersteuners wat ’n uitmuntende bydrae gelewer het.

No comments: