Monday, November 30, 2009

Die donkie is ‘n wonderlike ding!

'n Sug van verligting! Die Prince Albert donkies is wel – hulle hoewe is gesny en “gemanicure” danksy ‘n briljante Silas Jantjies van Beaufort-Wes. Dr Jaco Pienaar, die Staatsveearts van Beaufort-Wes, het tyd ingeruim om spesiaal Prince Albert toe te kom om na die hele proses om te sien.

Die donkies is elkeen ‘n kalmeermiddel ingespuit en het geen ongerief ervaar nie, behalwe om ‘n bietjie onbeholpe rond te loop na die hele oefening. Hulle is ook teen perdesiekte ingespuit vir die wis en die onwis, aangesien hier perde in die omgewing geteel word.

Ou Boggom se “slipper”-hoef, wat ‘n groot bekommernis was, is baie mooi herstel (en duidelik net betyds) en sal wel opvolgbesoeke van Silas vereis. Hy stap al klaar sonder enige ongemak op sy “nuwe” hoef.

Daar word beoog om gereeld met die donkies te gaan stap, aangesien die veearts meen dat hulle so nou en dan op harde grond moet stap. Hy was egter ook van mening dat die kampe waar hulle tans gehou word heeltemal geskik is en dat hulle voeding, wat van tyd tot tyd lusern insluit, ook gesond is.

Hierdie hele oefening sou nie moontlik gewees het sonder die wonderlike geldelike bydraes van Prince Alberters, wat op baie kort kennisgewing hand in die sak gesteek het. Baie dankie ook aan dr Jaco Pienaar, Kobus Ferreira, Silas Jantjies (terloops self ‘n perde uithourit kampioen) en Gawie Nel wat tyd ingeruim het om na die welstand van die donkies om te sien.

As ‘n mens sien hoe donkies verniel en verwaarloos word as gevolg van verkeerde toerusting, te swaar karre-tjies en swak voeding, dan kan Prince Albert opreg trots wees op sy goedversorgde (weliswaar dalk ‘n bietjie oorgewig!) donkies.

No comments: