Monday, November 30, 2009

Kerskoek haal R600 op veiling

Tydens die Reinders-fonds-insameling op 27 November, is daar met entoesiasme gebie vir die lieflike kerskoek wat Susan Viljoen spesiaal vir die geleentheid gebak en versier het. Die uitsonderlike vrugtekoek, getooi met die fraaiste marsepeinvruggies, elkeen perfek met die hand gevorm, het ‘n volle R600 tot die fonds bygedra.

Susan, wat in 1969 aan die sy van houtwerkonderwyser Pieter Viljoen as gradeonderwyseres in Pastoriestraat kom bly het, was in 1988 ook die stigter van die dorp se eerste kleuterskool. By Wildekanisland het sy jare lank 30 kindertjies op ‘n slag skoolgereed gemaak. Deur al die jare was sy ook trou betrokke by die Sondagskool en kinderkrans - en in die gemeenskap het sy ook haar deel gedoen. Vandag nog is sy hart en siel betrokke by die werk van die Here.

As ma van vier kinders was die bak en versier van partytjiekoeke maar deel van haar lewe. Dit het ‘n ernstige stokperdjie geword toe sy by die Koekversierdersgilde in die Kaap aangesluit het. Sy het ‘n kursus bygewoon en gereeld hul boeke en brosjures ontvang. Bestellings het landwyd begin inkom en daar moes verpakkingsplanne gemaak word!

Vir Susan is die uitdaging die wonderlike temas waarmee mense opdaag vir hul spesiale koeke. Dolfyne wat uit die water spring, swane wat swewend swem, kerktorings… teksverse. Koeke vir elke geleentheid en seisoen: Matriekafskeid, Voorstelling, huweliksherdenking, mondigwording… die VLV se 50 jarige bestaan, Sigri Barrella se 80ste verjaarsdagkoek onthou sy goed. Daar is gesinne vir wie sy vir ma en dogter ‘n voorstelkoek gebak het; vir die pa ‘n troukoek en vir die seun ‘n “sleutelkoek” vir die mondigwordingsparty.

Niks is te groot of onmoontlik nie. Maar, waarsku Susan, sy gee eerder berading voor sy ‘n egskeidingskoek bak!

No comments: