Monday, November 30, 2009

112 jaar oud!

-Sharon Witts-Hewinson & Henriette Liebenberg -

Hoërskool Zwartberg is vanjaar 112 jaar oud. En diè mylpaal is op 21 September op heel gepaste wyse gevier met ‘n samekoms van onderwysers, leerders en ander rolspelers in die dorp.

‘n Nuwe boom is vir toekomstige nageslagte geplant en heel gepas vernoem – “Boolboom” - na die vorige skoolhoof, Kobus Snyman, wat diep spore in die gemeenskap getrap het. Jennifer Munro en Rachel LeKay het almal begelei in ‘n geesdriftige weergawe van “Happy Birthday” en Chris Gouws het ‘n toespraak oor die skool se geskiedenis en erfenis gelewer.

Die skool is desjare begin in ‘n kamer in die huis van die eerste onderwyser, Jan van Manen. Die seuns en meisies het aanvanklik apart onderrig ontvang en selfs toe die twee skole in 1897 saamsmelt is ‘n skeidsmuur opgerig om die seuns en meisies uitmekaar te hou – iets wat vandag se onnies dalk nog steeds nodig sou ag!

Hoërskool Zwartberg het ondanks die twee Suid-Afrikaanse oorloë, die twee Wêreldoorloë, en die Groot Depressie- en apartheidsjare, sterk bly staan en die gemeenskap gedien. Die skool se leuse, Ut Prosim, beteken nie verniet "om van diens te wees" nie.

En as toekomstige nageslagte onder die nuwe boom ontspan, sal hulle hopelik die beskermende en opbouende hand van die gemeenskap voel.

No comments: