Monday, November 30, 2009

Prince Albert Primêr Diplomaplegtigheid

- Goliath Lottering -

Prince Albert weet al dat November die maand is wanneer die jaar se harde werk beloon word. 2009 is ‘n uitsonderlike jaar, want daar was soveel leerders wat presteer het, dat Prince Albert Primêr die Diplomaplegtigheid moes hou oor twee aande, sodat ons almal kon akkomodeer.
Die kriteria vir ‘n diploma is baie hoog: die leerder moet ‘n gemiddeld handhaaf van 80%, en dit is nie ‘n maklike taak nie. Dit kan slegs gebeur as die leerder deurgaans hard werk, al sy take voltooi en elke dag in die skool is.

Vir elke vak moet die leerder ‘n portefeulje hou van sy werk en die portefeulje word deeglik geinspekteer om seker te maak die werk is van hoogstaande gehalte.

Die Diplomaplegtigheids-kommitee het gesorg vir twee glansryke aande. Prince Albert se nuwe Munisipale Bestuurder, Me Juanita Fortuin, het die gemeenskap toegespreek. Haar boodskap was dat die gemeenskap ons leerders moet ondersteun en dat die leerders self niks en niemand moet toelaat om hul van hul ideale te laat afsien nie.

Ons hoof, Mnr J. Steyn, het weereens beklemtoon dat ‘n leerder se sukses in die lewe op drie pilare rus, nl. die skool, die kerk en die ouerhuis. Indien een van die steungroepe ontbreek, kan‘n leerder nie vooruit streef nie. Ons weet daar is leerders wat onder baie moeilike omstandighede gebuk gaan, maar wat nog steeds presteer en hul nie laat onderkry nie.

Hierdie jaar het Prince Albert Primêr ook trofees oorhandig aan die top presteerders in elke graad. Die pragtrofees is oorhandig aan die volgende leerders:
Gr 4. Beulah Windvogel
Gr 5. Renechia Mooneys
Gr 6. Branwill Koot
Gr 7 Janavieve Minnaar
Gr 8 Sandré Bezuidenhout
Gr 9 David-Leigh Willemse

In die grondslagfase gr1-3 het 60 leer-ders diplomas ontvang. Hulle moes presteer in drie leerareas, nl. Geletterdheid, Gesyferdheid en Lewensvaardighede.

Altesaam 86 leerders uit die Intermediêre en Senior fases het diplomas ontvang in die nege verskillende leer-areas.

Ons wil ook ons onderwysers bedank, hulle harde werk is ook beloon. Ons leerkragte bly deurgaans op hoogte van nuwe verwikkelinge in die onderwys deur kursusse by te woon en verder te studeer. Naweke, aande en na-skoolse ure word opgeoffer vir ons leerders, want ons weet hulle is ons toekoms.

No comments: