Monday, November 30, 2009

Moë fietsryers in Prince Albert

- Lenor Snyman -

Die Klein-Karoo se onlangse Cape Pioneer Trek vir bergfietsryers het ‘n draai in Prince Albert gemaak. En die Hoërskool Zwartberg se koffers is R30 000 voller.

Dié marathon-wedren is vanjaar vir die eerste keer gehou. Dit het oor 6 dae en 616 kilometer gestrek, in Oudtshoorn begin, Calitzdorp toe, oor die Swartbergpas Prince Albert toe en van hier af De Rust, Uniondale, George en terug Oudtshoorn toe. Dit word reeds as die naasgrootste in Afrika bestempel met sowat 200 fietsryers wat deelgeneem het.

Die fietsryers het aan die einde van die tweede skof op die rugbyveld van Hoërskool Zwartberg oornag. Ouers en leerders het behoorlik bontgestaan toe die trapvoos fietsryers begin aankom, met skoon fietse en sakke wat rondgedra is. Dit nadat vroegdag reeds begin is met kosmaak, tente opslaan en matrasse uitpak.

En met die begin van die derde skof na De Rust het sommige onderwysers, ouers en leerders waterpunte beman. Koeksisters, vars vrugte en water is uitgedeel. Op die rugbyveld was dit weer ‘n miernes van bedrywigheid toe die tente afgeslaan en alles gelaai moes word vir vervoer na die De Rust-oornagpunt.

Dit is danksy al dié harde werk wat Hoërskool Zwartberg se skoolfonds R30 000 ryker is. Die wedren is deur Klein Karoo International en Toyota aangebied, en word weer vir aanstaande jaar beplan.

No comments: