Monday, November 30, 2009

Herwinning met die Rommeltjommel en Blikvreter

- Denise Ohlson -

Herwinning is nie vir sissies nie. Gaan kyk maar daar by A+ Scrapmetal in die industriële area waar Ampie Jordaan saam met sy vrou Anna en tweelingdogters Elize en Annalien letterlik tonne skroot en rommel elke maand verwerk en vervoer.

Dit is inspirerend om te sien hoe daar daagliks van vroeg tot laat geweeg en gesweet, geswoeg en gepers word. Die honde Wors en Buks is ewe bedrywig en begeesterd – en die hen sonder naam skrop ook tussendeur kloekend om haar kuikens…

Die gesin en hul helpers het al vele ou vullisgate “ontrommel”. Elke stuk blik, yster en plastiek word uitgegrawe en in sakke gestop, op die Rommel-tjommel gelaai en aangery na die skrootwerf waar dit met die perser, genaamd Blikvreter, binne twee minute inmekaargedruk word tot stewige blokke – wat in Oudtshoorn verkoop word. Van Oudtshoorn gaan dit Kaap toe en van daar dra skepe die Karoo-blik oor die see China en Japan toe... waar dit gesmelt word - en wie weet, dalk weer in die vorm van ‘n bakkie of trekker hier by ons beland?
Ampie, as oud-leerling van Hoërskool Zwartberg, pluk vandag die vrugte van die dissipline wat daar afgedwing is. Vandag groei daar nie ‘n lui haar op sy kop nie – en planne kan hy ook maak: As boere vra dat hy hul plase moet opruim, sorg hy dat hy daar kom; hy woon veilings by; hy organiseer optelsessies langs die treinspore waar derduisende blikkies weggegooi word. As daar hier en daar ‘n waardevolle artikel te voorskyn kom, is daar vanselfsprekend groot opgewondenheid. Hy het ook al sy kliënte vir wie hy uitkyk vir spesiale artikels soos ou trekkers, skale, skaars onderdele…

Die smous met afvalmateriaal skep werk vir tot ses mense per dag en dan is daar daagliks werkloses wat as rommelgaar-ders ’n goeie dag se loon kan verdien met die blik en yster wat hulle aandra in sakke, kruiwaens en handgemaakte karretjies.

Ampie is trots op wat hy en sy gesin vermag en sê die polisie kom gereeld inspeksie doen om te help verseker dat daar nie met gesteelde goedere gehandel word nie. Vanselfsprekend hou hy sy oë oop en dit het al gebeur dat hy windpomponderdele geëien het en aan die eienaar terugbesorg het.

Die energie en sinergie op die skrootwerf herinner aan ‘n miernes – en veral Elize se stralende gesig as sy werk en Annalien se waardige houding as leerlingbestuurder agter die stuur van die bakkie vervul ‘n mens met verwonderde bewondering.

No comments: