Monday, November 30, 2009

Outa Lappies

Outa Schoeman het my gebel. Sal ek asseblief skryf oor hoe ek hom leer ken het, oor wat hy gedoen het, goed èn kwaad, en oor die Schoemans se verhouding met mekaar. Sien, ek is mos darem ook ‘n Schoeman, het hy gesê. (Dat ek eintlik maar net aangetroud is, was blykbaar nie vir hom ‘n “issue” nie!) Schoeman is Schoeman, en vir hom is daar twee soorte – wittes en bruines. Hy stuur ook vir my ‘n Schoeman-naambord.

Vir die waarheid van Outa se herkoms kan nóg hy nóg ek instaan. Wat hy weet, is aan hom vertel, en wat ék weet is weer deur hom aan my vertel. Maar dat hierdie derdehandse kennis baie interessant is, is seker.

Outa se eie woorde was dat daar nooit bruin Schoemans sou gewees het as die voortydse Schoeman-togryers nie doerie tyd die “klein swart kaff… parcel-tjie” (Outa se oupa), uit Rhodesië saamgebring het nie. Hier is die oupa toe daardie lente saam met hul eie babatjie gedoop as September Schoeman.

Saam met die naambord was daar ook ‘n tydskrif in Outa se eie handskrif. Ek moet sê, die handskrif het sekerlik al agteruit gegaan sedert sy netjiese skoolhandskrif toe hy in die distrik in “ Standerd Twee-en- ‘n half” was, soos hy altyd sê. Die geskrif lyk so:

24-10-2009

Ik Outa, skenk Dese NAAM–Plaat Schoeman aan NONA Adri onvoorwaardelik vir ons twee se persoonlike mense wese.

Danke
Yours
OUTA

Oor die kwaad, Outa, wat jy gedoen het, skryf ek niks, want as ek skryf en dis die waarheid, is jy in die moeilikheid. En as ek skryf en dis onwaar, is ék weer in die moeilikheid! Oor die goed wat jy gedoen het, haal ek aan uit wat jy op ‘n kierie in my besit gebrand het:

“To receive make me a slave
To give make me a master.”

En moet ek nog leer, maar weet jy al lankal.
Danke
Yours
Adri Schoeman

No comments: