Monday, November 30, 2009

VGK-Ringskorefees te Misgund

- Jakoba Visagie -

Die tweede Saterdag van Oktober is die datum waarna die kerkkoor van die VGK-gemeente plaaslik elke jaar uitsien. Dit is wanneer die korefees van die Ring van Zoar plaasvind. Die Ring van Zoar bestaan uit 11 gemeentes oa Prince Albert, De Rust, Dysselsdorp, Oudtshoorn, Môreson, Calitzdorp, Zoar, De Villiers, Uniondale, Joubertina en Misgund. Hierdie jaar het die gemeente van Misgund in die Langkloof as gasheer vir die korefees opgetree.

Van vroeg af het die kore van heinde en verre opgetrek na die VGK kerk in Misgund. Die pragtige kerk is teen ‘n heuwel tussen appelboorde en langs ‘n spoorlyn geleë. By hulle aankoms is die kore verwelkom met ‘n heerlike bord voedsame potjiekos.

Die aand was ‘n luisterrryke geleentheid waarby elke koor ‘n gesang en ‘n eie keuse lied moes sing. Die byeenkoms is geopen met “die VGK-lied” deur die massakoor en afgesluitmet ‘n pragtige kerslied. Na ‘n heerlike ontspanne dag waar vriendskapsbande weer versterk is, het ons huiswaarts gekeer.

No comments: