Monday, November 30, 2009

Die Donker Sy van die 2010 Wêreldbekertoernooi

- Henriette Liebenberg -

Volgende jaar se Wêreldbekersokkertoernooi in Suid-Afrika hou beloftes in van duisende sokkergeesdriftiges en groot geld. Maar daar is ‘n donker kant – die misbruik van veral vroue en kinders. Gedurende die Wêreldbekertoernooi in Duitsland in 2006, is sowat 40 000 jong vroue uit veral Sentraal- en Oos-Europa en die ou Sowjet-Unie onder valse voorwendsels na die land gelok en uitgebuit vir seksuele gunste.

Carol Bews van Kinderwelsyn in Johannesburg sê met ‘n verwagte toename in toerisme in 2010 kan daar ‘n styging wees in prostitusie en gevalle waar kinders vir seks gebruik word. Sy sê onskuldige vroue, mans en kinders kan verblind word met beloftes van werk en ‘n beter lewe en dan uiteindelik misbruik word.

Inspekteur Eddie Hattingh van die Prince Albert Polisie het aan die Vriend gesê hoe gouer almal bewus word van die dreigende gevaar, hoe beter. Hy sê mense wat daarop uit is om onskuldige vroue, mans en kinders te misbruik, gaan waarskynlik veral plattelandse gebiede teiken en Prince Albert is be-slis nie immuun teen sulke aanslae nie. Jongmense veral is maklike teikens en almal in die gemeenskap moet bedag wees daarop. Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat heelwat kinders sonder toesig gelaat word wat hulle ook maklike teikens maak.

Verskeie organisasies landwyd het reeds begin met ‘n veldtog – Rooilig 2010/Red Light 2010 – ter bewusmaking en die voorkoming van menslike handeldrywing. Die veldtog in Prince Albert is op 25 November deur ‘n kinderregte-organisasie, ANEX, wat in die Sentraal-Karoo gebaseer is, afgeskop.

Inspekteur Hattingh sê mense moet nie oorgerus wees net omdat daar nog nie voorvalle van menslike handeldrywing was nie. Hy het Prince Alberters aangemoedig om waaksaam te wees teen vreemdelinge wat mense vir werk werf of inwoners probeer betrek om mense-werwing te doen. Hy sê indien daar enigsins onraad bespeur word, kan die polisie geskakel word by 023-541 8000 of hom direk by 082 5594723.

No comments: