Friday, October 30, 2009

Ons Kinders maak vir BADISA saak

- Ilze Koorts -

BADISA Prince Albert het onlangs `n BADISA Fietstoergroep plaaslik ontvang. Die groep verteenwoordig `n gemeente in die voorstede van Kaapstad en het kom uitvind wat ons op Prince Albert doen, en voortspruitend daaruit, benodig om `n beter diens aan ons gemeenskappe van Prince Albert, Klaarstroom en Prince Albertweg te lewer. Hulle is baie begeesterd met die straatspeelgroepies wat deur BADISA begin is en ons het reeds speel- en opvoedkundige toerusting van hulle vir hierdie doeleindes ontvang.

BADISA se speelgroepies het reeds in Muisvoëlstraat begin. Met 32 kindertjies wat reeds die groepie bywoon, moet die groepie nou verdeel word. BADISA het ten doel om `n speelgroepie in elke straat te vestig, waar nodig. Ons kinders se vroeë kinderontwikkeling is prioriteit. Dit maak ons kindertjies meer skoolgereed, wat weer tot `n kleiner uitvalsyfer ten opsigte van skoolbywoning aanleiding gee. Ons wil graag al ons kinders sien skoolgaan en hul skoolloopbane voltooi. Die persone wat die speelgroepies by hul huise aanbied sal binnekort weeklikse opleiding ontvang in die moets en moenies van vroeë kinderontwikkeling.

Enige persoon wat belangstel om by hierdie speelgroepies betrokke te raak, word genooi om me Melissa Strydom by tel 023 5411388 te skakel.

Baie dankie vir elke vrywilliger en donateur wat by BADISA se werk betrokke is!

No comments: