Tuesday, September 30, 2008

Herwinbare van die maand – Blik, blikkies en metaal

- Ellen Joubert -

Sukkel jy om aan die gang te kom met jou pogings om te herwin? Konsentreer dan daarop om hierdie maand ten minste blik, blikkies en metaal uit jou gewone vullis te haal en in jou herwinningsak te sit.

Sit sommer van vandag af die volgende uit vir herwinning:

  • Koeldrankblikkies
  • Bierblikkies
  • Kosblikkies wat leeg en skoon is
  • Verf- en olieblikke wat leeg is
  • Spuitkannetjies of aerosol blikkies
  • Die metaal doppe van glas kosflesse
  • Bottel doppies
  • Enige ander staal of aluminium

In Suid-Afrika word daar meer as 3 biljoen blikkies per jaar gebruik net vir bier, koeldrank en vrugtesappe! Dit sluit nie eers kosblikkies, verfblikke, oliekanne en al die ander soorte blik verpakking in nie.

Blikkies word van staal of aluminium of ‘n mengsel van die twee gemaak. Volgens Collect-a-Can is daar sedert 1993 in Suid-Afrika 750 000 ton koeldrank- en bierblikkies herwin – dit is gelyk in gewig aan 150 000 olifante!

As blikkies en blikke herwin word, is minder energie nodig om produkte van rou grondstowwe te maak. Die herwinning van een aluminium blikkie spaar genoeg energie om ‘n televisie stel vir drie ure te laat speel.

33 blikkies weeg ongeveer 1 kilogram. Vir elke kilogram staal blikkies wat ge-smelt word eerder as om rou materiaal te gebruik, word 1 kilogram koolstofdioksied gespaar. Dit beteken dat die herwinning van blik en blikkies nie net minder rommel laat rondlê nie, maar ook energie spaar en help in die stryd teen aardverwarming.

Selfs al begin jy net om jou blik, blikkies en metaal te herwin, doen jy al iets wonderliks!

(Die inligting gebruik vir hierdie artikel kom van www.greenworks.co.za )

No comments: