Tuesday, September 30, 2008

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

In Oktober word die beweging van die planete en die sterrebeelde wat in September mooi duidelik geword het, voortgesit. Die winterkonstellasies en saam met hulle Jupiter, wat in die Boogskutter is, beweeg al nader na die westelike horison om van die hemeltoneel te ver-dwyn.

Omdat Jupiter 12 jaar neem om om die son te wentel, is hy elke jaar in `n ander sterrebeeld van die diereriem en dus beweeg hy nou na die Steenbok toe. Op die oomblik is hy nog baie helder, en bokant ons koppe te sien naby die handvatsel van die teepot in die Boogskutter maar op 1 Desember sal hy op gelyke hoogte met Venus naby die westelike horison wees, met die sekelmaan onder die twee om `n “glimlag-gesiggie” te vorm. Dit sal op sy beste te sien wees vanaf Gordon`s Koppie.

Mercurius in Virgo word in Oktober weer `n oggendobjek tesame met Saturnus (in Leo) terwyl die aandster Venus (in Libra, later in Scorpius) met magnitude -3.9 die helderste hemelsobjek sal wees na Jupiter (mag. -2.3).

Mars, wat deur ses diereriem sterrebeelde per jaar jaag, is in `n wedloop betrokke na oos deur Virgo en Libra terwyl dié sterrebeelde na wes beweeg.

Die slotsom van bogenoemde is dat niks in die hemelruim stil staan nie, en alle bewegings wat ons waarneem vanaf ons bewegende uitkykpunt relatief is.

Volmaan is op die 14de Oktober en Nuwemaan op die 29ste.

Die grootste eksperiment op sterrekundige terrein is in September aangeskakel, naamlik die Large Hadron Collider (LHC) wat 100 m ondergronds op die grens tussen Switserland en Frankryk gebou is. Dit is `n sirkelvormige partikelversneller van 27 km wat protone verkieslik tot die spoed van lig moet versnel en hulle dan met mekaar moet laat bots. Die verwagte uitkoms van die eksperiment sal `n kortstondige gravitasiekolk en die skepping van nuwe partikels kan wees. Dit sal hopelik binnekort vir almal baie interessante resultate oplewer. Raadpleeg Google onder LHC vir verdere inligting.

In Oktober word dit ook om ander redes baie spannend in die ruimte bo ons, want die Hubble Ruimteteleskoop word dan vir die vyfde en laaste keer deur die Ruimtependeltuig Atlantis gevang vir `n diens en opgradering. Omdat die pendeltuig nie vanaf die Hubble Ruimteteleskoop na die Internasionale Ruimtestasie kan uitwyk in `n noodgeval nie, moet `n tweede pendeltuig, die Endeavour, op gereedheid geplaas word indien `n reddingspoging nodig sou wees.

Raadpleeg www.heavens-above.com vir moontlike waarnemings van die ruimte-teleskoop onder reparasie.

Hou die sterre in u oë !
Vir navrae : sel. : 072-641-9657

No comments: