Tuesday, September 30, 2008

Herwinningsprojek maak ‘n geldjie en doen huisbesoek

- Ellen Joubert -

Prince Albert se Herwinningsprojek het op 21 Julie 2008 afgeskop en nou, ‘n klompie weke later, is daar al ‘n klein bietjie wins te toon!

Tot en met 10 September 2008 het die projek herwinbare materiaal met ‘n waarde van R 3 128 aan ‘n terugkoopdepot in Oudtshoorn verkoop. Dit het bestaan uit:

424 kg plastiek
930 kg plastiekbottels
1 205 kg blik
3 054 kg glas
1 484 kg karton
190 kg gemengde papier
377 kg wit papier

Die vervoerkoste van hierdie verkope het R 1 840 beloop en dit laat die projek met ‘n wins van R 1 288. Soos meer en meer inwoners begin om hul herwinbare materiaal Donderdagoggende in herwinningsakke uit te sit om afgehaal te word, sal die wins groei.

Die Raad sal by hul volgende vergadering besluit of hulle toestem tot die oprig van ‘n Prince Albert Terugkoopsentrum. Indien die Raad instem, sal Prince Albert se inwoners teen einde Oktober die geleent-heid hê om herwinbare materiaal plaaslik aan die projek te verkoop.

Die sukses van die projek hang af van die hoeveelheid herwinbare materiaal wat die projek kan insamel. Dit is die rede waarom vrywilligers in Augustus en September al die restaurante en besighede in die dorp besoek het om seker te maak dat hulle weet watter rommel uit hul besighede herwin kan word en dat hulle hierdie materiaal in die herwinningsakke sal uitsit.

Nou gaan die projek ‘n stap verder en doen sommer huisbesoek ook!
Prince Albert se vier Gemeenskap-Ontwikkelingswerkers (GOW’s) het op 10 September begin om huishoudings te besoek. Hulle beplan om ál die huise in die dorp te besoek!

Tydens hierdie besoeke wys hulle inwoners voorbeelde van materiaal wat herwin kan word en ook van die algemeenste foute wat mense maak. Hulle gee vir elke huis ‘n handige opsomming van herwinbare materiaal en ná die besoek word herwinningsakke by inwoners afgelewer.

Onthou: Herwinningsakke word nou op Donderdae opgelaai. Die sakke kan by die Finansiële kantoor van die Munisipaliteit gekry word. As jy ‘n sak uitsit, sal jy ‘n leë sak terugkry.

Die GOW’s wil weet: “Doen jy wat jy kan om seker te maak jou herwinbare materiaal bereik die projek?”

No comments: