Tuesday, September 30, 2008

Huis Kweekvallei vra die Gemeenskap se Ondersteuning

- Denise Ohlson -

Tydens Huis Kweekvallei se algemene jaarvergadering op 11 Augustus het bestuurder Johan du Toit finansiële state voorgelê wat uitgawes toon van R1 356 637 - waarvan 64,4 % op salarisse en 20,6% op voedsel bestee is. Die tehuis, geregistreer vir verswakte bejaardes, het die boekjaar afgesluit met ‘n verlies van R38 349.

Geldinsamelingsveldtogte het gehelp dat die verlies nie groter is nie, al het sommige organisasies net ‘n skrywe vir sterkte teruggestuur! Gelukkig het die Lottoraad die hoop laat opvlam vir hulp van daardie kant af.

Veral hoë voedselpryse maak dit bitter moeilik om binne die begroting te bly, en ‘n beroep word op die gemeenskap gedoen vir skenkings. Selfs vars produkte sal welkom wees.

Aangesien Huis Kweekvallei ook gere-gistreer is as ‘n Artikel 18 organisasie, kan donasies van persone of ondernemings se inkomstebelasting afgetrek word.

Hoewel die personeel van elf verpleegsters, twee administratiewe beamptes en elf huishoudelike assistente reeds onder groot druk is, is ‘n toename in die aantal inwoners die mees volhoubare manier om die boeke te balanseer. Dit bied nie net ‘n groter losiesinkomste nie, maar beteken ook ‘n groter subsidie.

Die tehuis het plek vir 56 inwoners, maar tans is daar net 46, waarvan dertig in die siekeboeg versorg word.

Vir verdere besonderhede of om uit te vind hoe jy van hulp kan wees kontak Johan du Toit by 023 5411 626

No comments: