Sunday, January 31, 2010

100% op 100

- Denise Ohlson -

Maggie Hendriks, gebore Jacobs in die Murraysburg distrik, het op 1 Januarie 2010 haar honderdste verjaarsdag gevier saam met vriende en familie in die Sydwell Williams Sentrum in Prince Albert. Die geleentheid is geborg deur die munisipaliteit en daar is vir 80 mense ‘n heerlike tweegang maaltyd voorgesit.

Maggie het pragtig gelyk in haar groen rok en kleurryke krale. Sy is ‘n vrolike mens wat nog lekker kan gesels, goed hoor en sien, met haar eie stel pragtige tande glimlag. Al kan sy nie meer loop nie, kla sy nie. Sy het ‘n rolstoel en haar mense kyk mooi na haar. Boonop eet sy nog graag en lekker!

Maggie se man Piet en haar enigste seun het haar al ontval, maar haar dogter, sewe kleinkinders, vyftien agterklein-kinders en een agter-agterkleinkind (wat pas een jaar oud geword het) hou haar goed aan die gang.

Sy bly al by die dertig jaar in Prince Albert en voel tevrede en geborge hier. Sy is ‘n lid van die Nuwe Apostoliese Kerk en gemeenteleier Pieter Kamfer sorg dat sy gereeld by haar huis met Nagmaal bedien word en daaroor is sy baie dankbaar. Pieter wil burgemeester Magdalena Benjamin en haar Raad bedank dat hulle hierdie gedenkwaardige mylpaal so spesiaal gemaak het.

No comments: