Sunday, January 31, 2010

Nuwe Apostoliese Kerk saai mosterdsade

- Denise Ohlson -

Uit Kaapstad maak die Nuwe Apostoliese Kerk ‘n dekade lank al ernstig bemoeienis met hul gemeentelede hier in Prince Albert. En nie net lidmate van die plaaslike gemeente word bevoordeel deur die Silversands Distrik van Kuilsrivier se twee-weeklikse besoeke nie: die hele dorp is altyd meer as welkom om hul pragtige musiekuitvoe-rings gratis by te woon.

Onder leiding van apostel Alistair Kriel bring areakoördineerder Paul Williams graag kore en orkeste na Prince Albert. Hul mees onlangse besoek was tydens die Oesfees toe hulle musiek gemaak het by die Saterdagmark en almal welkom was om te kom luister. Die middag het ‘n gekombineerde koor van 110 stemme saam met orkes en orrel in die kerk opgetree en soos altyd, was die deure vir almal oop en die banke vol.

Pas het Paul vyftig blokfluite by die kerk afgelewer en 32 kinders tussen ses en sestien het Saterdagoggend, 16 Januarie, hul eerste lesse gehad. Daar heers groot opwinding onder die nuwe musikante met die belofte dat Paul binnekort ‘n ensamble van vyf blokfluite na Prince Albert gaan bring sodat almal kan hoor hoe die volle reeks blokfluite klink – van die babafluit tot die reuse oupagrootjie!

Paul vertel die area van De Aar het ‘n paar jaar gelede begin met een enkele instrument en vandag het hulle hul eie orkeste met 121 instrumente, so Prince Albert is bevoorreg om sommer met 50 te begin! Dink net waar kan dit kan eindig… Sara Sass en Johnny Kammies gaan elke Saterdagogggend les gee.

In Maart bring Paul en sy medewerkers ‘n mannekoor van 100 stemme. Op Sondag 31 Januarie word die optrede van die Tafelsig Distrik se koor en orkes om 10 vm na die Nuwe Apostoliese Kerk in Prince Albert gebeeldsend.

Al die musikante is selfopgelei en as hulle op reis gaan, moet hulle self betaal vir vervoer en verblyf - so ook die veldwerkers.

Afgesien van musiek maak en onderrig, fokus veldwerkers ook tydens hul besoeke op sielesorg, word Sondagskoolkinders geleer en gevoed, senior burgers kry advies, ongetroude paartjies word begelei en die jeug word ondersteun.

Plaaslike gemeenteleier Pieter Kamfer is trots op die kerk wat al 55 jaar lank hier bestaan en vandag 652 lidmate sterk is. Hy glo dat kinders die kerk se toekoms is en moedig ouers aan om hul kinders te ondersteun en leiding te neem deur saam met hulle kerk toe te kom.

No comments: