Sunday, January 31, 2010

‘n Wit Kersfees in London

- Miems Theron -

Toe ons ons toer na Marisa, ons dogter beplan het, het ons geweet dit gaan ‘n wit Kersfees wees en ons was baie opgewonde daaroor. Ons wou dit immers beleef wat al die Kersfees-kaartjies in die verlede vir ons ingeprent het: Takbokke met Kersfeesbome wat nederig raak onder die vrag sneeu.

Ons land op Kersdag in London en ons meisiekind wag ons in met haar rooi Kersfeeshoed en rooi jas. Sy berei vir ons ‘n regte egte Suid-Afrikaanse Kersmaal voor met Vark en Skaapboud. Ek verwonder my aan die afrikaansheid daarvan , ‘n dosyn jong mense sit en vier fees om die tafel in Afrikaans.

Ons werk volgens ‘n stywe program en elke dag is ingepak met wonderlike ondervindinge. Ons belewe London in sy volle glorie: Die Duck Tours, ‘n boot wat ook op land ry, neem ons deur London. Ons sien die Buckingham paleis met sy wagte en die koningsgesin wat soos ingehoktes agter die toe vensters opereer. Foeitog dink ek! Die Big Ben en London Eye en Tower of London waar ons Cullinan Diamante pryk. Die aand gaan kyk ons La Boheme in die Royal Opera House – Net om die plek van binne te sien was ‘n belewenis!

Oor Sky nuus kom toe die onheilspellende tyding: die ergste sneeu in 30 jaar. Oppad sien ons van die “Grit-lorries” wat sand en sout op die pad strooi om die sneeu te laat smelt. Hulle stoot die rybane oop sodat die motors kan ry.

Ons is gelukkig, want ons het ons eie toerleier en ons eie motorbestuurder toe ons die pad na die noorde vat. Ons bestemming is Skotland. Name in atlasse word nou ‘n werklikheid. Ek wil amper soos Laurika Rauch sing: Oxford, Windermere, Shap, Lake Districts, Edinburgh en Inverness.

Ons haal Edinburgh en beleef die Edinburgh’s Hogmanay 2010 die 31ste Desember. Ons gaan vroegaand na ‘n klassieke konsert in die St Giles Katedraal. Ons is van die 80, 000 mense wat op die brug staan en kyk hoe 4.5ton vuurwerke die hemelruim omskep in ‘n blomtuin vol kleur.

Ons gaan nog hoër noord na Inverness en soek die Loch Ness Monster by Loch Ness. Gelukkig nie gekry nie. Ons vlieg na Du-blin in Ierland. Ons gaan na Galway-Bay per motor .

In Dublin lê ons besoek af by die Trinity College en besoek die Book of Kells. In die Long Room wat omtrent 65m in lengte is, is daar 200boeke wat dateer uit die jaar 1743. Die Book of Kells is geskryf in die jaar 800 en bevat die 4 Evangelies wat in Latyn opgeteken is in die wonderlike Kalligrafie-skrif. Die boeke kan gesien word. ‘n Wonderlik erfenis vir die nageslag.

Ons vlieg terug London toe en sluit ons toer af met : ”The Lion King.” ‘n Fantas-tiese musiekblyspel; en om die “mechanics” agter elke dier wat beweeg te sien, het my oë laat rek!

Vir ons was dit ‘n wonderlik toer en die laaie in my geheue was volgepak met die wonderlikste herinneringe.

No comments: