Sunday, January 31, 2010

Ken Jouself Beter!

- Jacolise Botes -

Baie mense glo hulle is òf `n introvert òf `n ekstrovert en dink dit is genoeg om te sê hulle ken en verstaan hulself; so ook hulle lewensmaats, kollegas, kinders, vriende en familie. Uit hierdie verwysingsraamwerk wil ons dan ook dikwels ander voorsê, kritiseer, vermaan of beoordeel. Het u geweet dat `n introvert ook`n baie spontane persoon kan wees, en dat `n ekstrovert ook stil en ernstig kan wees? Persoonlikheid of karaktertrekke is baie meer omvattend as net 'n eienskap van introversie of ekstroversie.

Die Almagtige Skepper het die mens so uniek geskape dat daar altesaam 16 spesifieke en gegronde Persoonlikheidsgroepe bestaan. Dit kan saam groepeer word in vier Oorhoofse Persoonlikheidslyne. Interessant genoeg is elk van hierdie vier Hooflyn persoonlikheidsvorme tiperend van die skrywers in die eerste vier Evangelieboeke van die Bybel: Mattheus, Markus, Lukas en Johannes.
Mense vra dikwels wat is die waarde daarvan om `n professionele persoonlikheids- assessering te laat doen. Daar is dan so baie kitsmetodes. Anders as `n goedkoop lukrake kitsmetode is die KTS II- model ontwerp deur `n internasionaal bekende Sielkundige, David Keirsey, wat oor `n tydperk van 50 jaar menslike gedrag bestudeer het.

Hierdie model gee `n korrekte weerspieëling van `n persoon se langtermyn gedragskenmerke, terwyl ander dikwels net die ‘gevoel van die oomblik’ vasvat en weergee; of `n idee weergee van hoe die persoon dink hy is, of dit wat hy graag wil wees. Die vraagstelling in die assessering is van so `n aard opgestel, dat sou `n persoon dalk `n meningsfout maak oor homself, dit weer op een of ander wyse gemeet word, om die antwoord korrek te verkry.

Nog beter om te weet, is dat hierdie 16 persoonlikheidstipes soms vermeng om jou eie spesifieke persoonlikheid of identiteit te verklaar. En dan kom die lekker… jy leer wat die ideale beroep vir jou sou wees, of indien jy wel in `n spesifieke beroep is, watter spesialiteit of ‘nis’ jy moet volg om werksvervulling i.p.v werksfrustrasie te ondervind.

Ook watter persoonlikheidsgroep die ideale lewensmaat sal kan wees vir jou, wat jou spesifieke plek of leierskapsrol in `n groep moet wees; (almal van ons is een of ander leier)- ook waarom jy onderpresteer in jou werk of skoollewe, waarom daar dikwels konflik of probleme in jou verhoudings is, en hoe om dit reg te stel; hoe om mense binne jou verhoudingslewe beter te verstaan, en ook waarom jy sekere gebeure op jou lewens-pad ervaar as `n krisis en watter sterk punte in jou is om dit positief te kan oorwin.

Die Jungiaanse Sielkunde vind dat getroude pare `n defnitiewe neiging toon met sekere persoonlikhede wat na mekaar aangetrek word, so ook in studies oor huwelike wat die langste gehou het. Ons natuurlike aantrekkingskrag is na `n Persoonlikheidstipe wat ons dominante persoonlikheidsfunksie deel, maar wat dit in `n teenoorgestelde rigting gebruik. Daarom word hierdie model ook suksesvol aangewend vir verloofdes en getroude egpare (selfs oud getroudes) wat die vonk in hulle huwelike wil behou. Party van ons wat nie die ideale “match” was nie, leer hoe om harder te werk daarvoor.

Die KTSII- model het sowat 20jr gelede `n deurbraak gemaak in Amerika met die bevinding dat ADHD by kinders dikwels verkeerdelik gediagnoseer word en dat skadelike psigotropiese medisynes onnodig gedrink word, terwyl die spesifieke gedrag soms net `n kenmerk was van `n bepaalde persoonlikheidstipe wat nie reg verstaan en hanteer word in die ouerhuis of by die skool nie. Dit word ook al meer `n algemene praktyk dat besighede persoonlikheids- assesserings gebruik in die keuringsproses by aanstellings of bevorderings. Maatskaplike Werkers en siel-kundiges binne die SAPD, Akademiese Hospitale en groot staatsdepartemente, gebruik hierdie model suksesvol.

Wat is meer bevrydend om jouself werklik te leer ken, soos God bedoel het jy moet wees? Uniek, met `n plan en `n rede hoekom juis so… en dan hierdie “blueprint” vir jou lewe voluit te gaan uitleef omdat jy Sy Naam wil eer en positief bydra om aan jou Skeppingsdoel te beantwoord?

Meer besonderhede skakel
Jacolise Botes
0235511831/ 0845812553

No comments: