Sunday, January 31, 2010

Suid-Kaap se 96 studentekonstabels kry balkies in Prince Albert

- Denise Ohlson -

Vier van die 96 studente-konstabels wat op 15 Januarie hul veld-opleiding in die Suid-Kaap voltooi het, was onder die vlerk van opleier Jean Viljoen, inspekteur van die Prince Albert Polisiestasie. Hul eerste ses maande het hulle deurgebring aan die Polisiekollege in Oudtshoorn, waarna hul “eerste strepie” toegeken is. Met die voltooiing van die veldopleiding, waartydens hulle in die praktyk te doen gekry het met huisbraak, ongelukstonele, misdaadvoor-koming, ondersoeke en stasiewerk, het hulle hul “tweede strepie” ontvang - saam met die res van die groep wat na Prince Albert gebring is vanaf George, Mosselbaai, Beaufort-Wes, Heidelberg, Albertinia, Knysna en Plettenbergbaai.

Tydens die toekenningsparade op die oop terrein oorkant die BP Garage het kaptein CJ Alkana, Koördineerder van Indiens-opleiding in die Suid-Kaap, die 26 veld-opleiers geprys vir hul harde werk. Daar is flink gemarsjeer voor ‘n geïnteresseerde skare.

Inspekteur Viljoen, wat al sedert 2000 ‘n opleier is, sê drie studente per opleier is die norm, en hy het al 27 veldstudente opgelei. Die eerste vereiste is dat studente fiks moet wees en om tot 8 km op ‘n slag te hardloop.

Vanjaar het hy net een student, Graham Hendriks. Die vier wat pas hul tweede balkie verwerf het, se volgende periode is ‘n probasietydperk van twaalf maande waartydens hulle by verskillende stasies sal werk. Binne sewe jaar kan hulle vorder tot sersant, maar as hulle bereid is om eksamens te skryf, kan dit baie vinniger gaan.

As daar lesers is wat belangstel om opgelei te word as polisiemanne en -vroue, kan hulle skakel met inspekteur Eddie Hattingh by die Prince Albert Polisiestasie. Hulle sal ‘n salaris en behuisingsubsidie ontvang – en opgelei word om liggaamlik en geestelik sterk te staan.

No comments: