Sunday, January 31, 2010

Belastingbetalersvereniging onder sterk leiding

- Denise Ohlson -

André Jaquet, afgetrede maar hoogs gesoute diplomaat, is pas verkies tot voorsitter van die Prince Albert Belas-tingbetalersvereniging.

Met gepaste insig sê hy: “Ek weet daar was al verskeie pogings om weer ‘n belastingbetalersvereniging op dreef te kry, maar ek het groot hoop vir die toekoms. Vorige pogings het moontlik gefaal omdat persoonlikhede gebots het. Ek en my kommitee is egter reeds aan die werk in ‘n gesindheid van konsensus en deursigtigheid. Ons wil verteenwoor-digend wees en die hele gemeenskap betrek.”

Wat André bemoedig is dat die munisipaliteit se Raad en munisipale bestuurder vatbaar is vir ‘n verhouding van samewerking eerder as konflik.

Hy beklemtoon: “Ons vereniging is ‘n waghond wat gaan sorg dat die mense van Prince Albert die heel, heel beste diens kry. Elke persoon wat byvoorbeeld vir water en elektrisiteit betaal, gee geld aan die munisipaliteit en daardie fondse moet tot voordeel van die hele dorp bestuur word.”

Hy beklemtoon dat dit nie goed genoeg is dat raadslede net elke vyf jaar uitgestem kan word as hulle nie presteer nie. Deur by die belastingbetalersvereniging aan te sluit, verwerf jy ‘n stem om geskilpunte dadelik aan te spreek.

Onder leiding van ‘n man wat geskool is om te onderhandel, te konsulteer, te be-raadslaag en te oortuig, gaan daar hard gewerk word om van Prince Albert ‘n ware suksesdorp te maak.

Om aan te sluit by die Belastingbetalers-vereniging kos net R20. Skakel Barbara Castle by 023 541 1613 om lid te word.

Die vereniging kom die eerste Dinsdag van elke maand om 09h00 byeen by Pastoriestraat 21. Alle lede is welkom om die vergaderings by te woon.

No comments: