Sunday, January 31, 2010

Ster-student in Kerngeneeskunde

- Denise Ohlson -

Alicia van Zyl, dogter van Anna en Johan van Zyl en oud-leerder van Hoërskool Zwartberg, hou Prince Albert se naam hoog daar in Tygerberg Hospitaal. Sy het pas begin met BTech Kerngeneeskunde nadat sy einde 2009 haar Nasionale Diploma in Kern-geneeskunde met vlieënde vaandels behaal het by die Cape Peninsula University of Technology.

Haar dosent by die Skool vir Radiologie, Thea Eiselen, beskou haarself as “bevoorreg” om só ‘n spesiale “ster-student” te kon gehad het.

“Ten spyte van 'n groot beproewing met haar broer se ontydige dood tydens haar eerste jaar, het Alicia net sterk bly staan,” prys sy. “Alicia is 'n ongelooflik standvastige en gemotiveerde student wat die gawe het om haar oortuigings oor te dra aan mede-student en medemens. Sy weet verseker wat sy wil hê en doen alles in haar vermoë om dit te kry. Sy is 'n wonderlike voorbeeld van 'n gebalanseerde jongmens. Niks is ooit te veel moeite nie en ‘n mens kan altyd op haar staatmaak.”

Alicia het in al drie haar studiejare uitstekend gevaar, beide akademies en prakties. Me Eiselen is oortuig dat BTech nie die einde van haar pad in die professie sal wees nie.

Die amper tasbare empatie wat sy vir haar pasiënte toon en die feit dat sy hul belange so op die hart dra, gee haar ‘n baie spesiale plekkie in baie mense se lewens. Sy is 'n populêre en lojale vriendin en Tygerberg hospitaal het al amper haar tuiste geword!

Hierdie dogter van Prince Albert gaan nog berge verskuif…‘n doktorsgraad is haar ideaal! Vir haar geld die mooi spreuk: We make a living by what we get, but we make a life by what we give.

No comments: