Sunday, January 31, 2010

Gemeenskap se Warm Hart

- Miems Theron -

In Junie 2009 beland Richard, Pete en Megan Reinders se seun, met sy motorfiets in ‘n ongeluk wat hom amper vir dood agterlaat. Sy gebreekte nek, af arm en verminkte gesig kos hom 28 dae in intensiewe sorg en nege operasies. Hy beleef vele terugslae op die pad na herstel.

In Prince Albert is almal geskok oor die tragedie wat die dorp se gewilde dokterspaar getref het en daar word gewoeker om geldelik by te dra tot die enorme mediese kostes van die seun wat nie ‘n mediese fonds het nie.

Die Thursday Group het met kenmer-kende wil en ywer fondse bygedra; Die Prince Albert Gallery hou ‘n veiling in Augustus en samel R12,000 in, in een aand. Die mense van die Lazy Lizard hou ‘n Kersete in September en voer met die Patchwork Teater ‘n stuk op – hulle kan R7,000 skenk. Die Prince Albert Land-bougenootskap is volgende en neem die inisiatief vir ‘n ete én ‘n veiling op 27 November. Samie Luttig Jnr. en sy ma, Johanna, is die inspirasie en dryf-krag. Sammy Delport gooi ook sy gewig in en help met die reëlings.

Operasie Reinders funksioneer soos ‘n seekat met baie tentakels. Jeanette Marais kollekteer items vir die veiling, Jan-Chris Marais skape vir die braaivleis. Die hotel se bydrae is hul unieke en lekker brode. Baie vrywilligers help bak. Diana Koorts soek almal se beste slaaie en kry ‘n verskeidenheid. African Relish maak ‘n heerlike kerrie en groente. Madri Luttig en Liezl de Klerk staan reg vir ‘n indrukwekkende poedingtafel.

Die reaksie is verstommend. Almal is net bereid om te gee, want hul gemeenskaps-dokter het sy kant gebring vandat hy in Prince Albert kom “aftree” het. ‘n Wonderlike plaaslike orkes, Slamjam, gaan musiek maak! Bodo en sy Kieliebeentjies en Therene Fourie gaan ook help vermaak... Die hele gemeenskap koop kaartjies teen R100 per persoon.

Mark Steyn hanteer die veiling. Hy doen dit uitstekend, want elkeen van die duisternis artikels kry ‘n baas. Die musiekmakers tree op die stoep op en dié wat wil skoffel, skuif uit soontoe.

Almal eet heerlik, koop heerlik en is tevrede met die eindresultaat. Die Landbougenootskap van Prince Albert is trots om ‘n ongelooflike R70,000 te kan bydra tot Richard se onkostes.

Die genootskap wil die Bolanders en elke individu in Prince Albert wat gehelp het om van hierdie funksie so ‘n verstommende sukses te maak, opreg bedank. Dit was ‘n wonderlike poging wat die dorp sienderoë verenig het. Wit en bruin, ryk en arm – almal het bymekaargekom om een van ons dorp se inwoners te onderskraag in ‘n tyd van dilemma en droefheid.

Omgee is nog glad nie uit die mode nie. Prince Albert het dit bewys.

No comments: