Sunday, January 31, 2010

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

Die Internasionale Jaar van Astro-nomie 2009 is in Prince Albert op gepaste wyse afgesluit met `n observasie van die laaste en baie spesiale sons-ondergang op Gordon`s Koppie.

Daar was 34 persone, wat `n paar entoesiastiese kinders ingesluit het, op die koppie om die verdwyning van ons naaste ster agter die horison en daarna die verskyning van die Volmaan, die tweede een in Desember 2009, dop te hou. ‘n Rukkie later het die Maan ook nog effens dowwer geword nadat die Aarde se skaduwee `n hap uit die Volmaan "gebyt" het – alles saam `n baie rare verskynsel.

Almal het `n kans gekry om `n Galileo- ondervinding te belewe deurdat hulle deur die klein teleskoop na Jupiter en die Maan kon kyk net soos Galileo dit gedoen het presies, 400 jaar gelede. Almal was dit eens, dat ons so iets meer gereëld moet doen.

Om die belangstelling in die heelal wat deur die IYA 2009 baie geprikkel is, lewendig te hou, volg hier nou `n paar interessanthede om na uit te sien in die toekoms.

In Februarie, vergeleke met die vorige maand, lyk die nagtelike sterrehemel nog nie baie anders nie. Die somerkonste-lasies, Orion en Canis major, oorheers nog die hoofaansig, alhoewel hulle tydens die standaard waarnemingstyd, 22h00, reeds effens na die Weste ver-skuif het. Die helder tweelingspaar, Pollux en Castor, kulmineer (bereik sy hoogste posisie) in die Noorde.

In die Ooste styg die Leeu al op wat die koms van die Herfs aankondig. Leo is `n geweldige groot sterrebeeld met die helder hoofster Regulus (“klein koning”) wat op die Ekliptika lê. Die omgekeerde vraagteken of sekel dui die Leeu se maanhare aan en jy moet vir jouself `n op sy rug- liggende leeu voorstel.

Mars, wat op 29 Januarie in opposisie met die Son was ("Volmars"), is nog opvallend helder in die onbeduidende sterrebeeld van die Kreef tussen Gemini en Leo.

Die oorlogsplaneet, wat nou 99.3mil. km van die Aarde af is, word algaande kleiner en dowwer en verloor vinnig sy aanskoulikheid, maar passeer in die eerste derde van die maand die oop sterrehopie Praesepe (M 44) in die Kreef wat `n pragtige verkykerwaarneming sal afgee.

Jupiter neem afskeid van die aandhemel terwyl Saturn in Virgo begin om vroeër saans op te kom.

Nuwe Maan is op die 14de en Volmaan op die 28ste Februarie.

Die ruimteteleskoop Hubble is in 2009 suksesvol gediens en van `n nuwe infrarooi kamera, die Wye Veld Kamera (WFC3), voorsien wat nou die aller-mooiste fotos uit die ruimte oplewer.

Besoek gerus die volgende webwerwe om ons pragtige heelal te bewonder:
www.spacetelescope.org
www.hubblesite.org

In die Suide sien mens nou weer al drie kruise bokant die Swartberge en waardeer ook nog die groot en klein Magellaanse wolke. In hierdie rigting wemel dit van pragtige voorwerpe wat mens met`n verkyker kan bestudeer.

Vir enige navrae omtrent sterresake kan u Hans Daehne nader by 072-641-9657 of by daehne[@]telkomsa.net

Hou die sterre in u oë!

No comments: