Tuesday, June 30, 2009

Bekroonde Zoeloe Kunstenaars in Prince Albert

- Denise Ohlson -

Hennie Boshoff werk tans met drie van sy oud-studente aan ‘n kunsprojek by sy huis, Villa Kruger. Die drie Zoeloe-kunstenaars het jare lank saam met hom in Durban gewerk en is nou al drie hoogs geskool en bekend.

Hy glo in hul toekoms en is besonder trots op Welcome Danca en Bheki Khambule wat al bekroon is as Nivea Kunstenaar van die Jaar in 2005 en in 2008. Hy is net so opgewonde oor die feit dat hulle saam met Lalelani Mbhele oral suksesvol uitstal. `n Opwindende vooruitsig is dat hulle – onder Hennie se leiding en toesig – opdrag gekry het om kunswerk vir die 2010 Sokker in Durban te lewer.

Terwyl hulle in Prince Albert is, beplan hulle om vinjette te skilder van mense, plekke en momente in die dorp. Verby-gangers sal welkom wees om te kyk hoe hulle werk en hul werk sal ook te koop wees. Hulle beplan om deel te neem aan die 30X40 Uitstalling op 9 Augustus by die Prince Albert Gallery.

Hennie vertel: “Hoewel ek geen kontak met die drie gehad sedert ek ses maande gelede in Prince Albert kom woon het nie, is dit verstommend hoe die sinergie steeds tussen ons werk. Ons bespreek ‘n konsep oorsigtelik, gaan slaap daaroor – en die volgende oggend kom ons bymekaar… met amper identiese ontwerpe en illustrasies. Dit is net suiwer vreugde om saam met hulle te werk”

Genooide gaste het op Jeugdag by Villa Kruger saamgekom om die kunstenaars te ontmoet en hul werk te sien. Daar is sowaar `n hele paar Prince Alberters wat in Zoeloe kan kommunikeer (!) en die drie manne is oorstelp met die vriendelike ontvangs in ons mooi dorp. Hul besoek aan `n plaaslike shebeen was ook `n gawe ondervinding en hulle het net vleitaal vir Prince Albert en sy mense.

Lesers kan meer oor Welcome, Bheki en Lalelani se kunswerke op hul webwerf www.vulakznarts.co.za leer.

No comments: