Tuesday, June 30, 2009

Sterreprag Oor Prince Albert

-Hans Daenhe-

In Julie en in die yskoue greep van die winter is die sterre op hul mooiste, want ons kyk nou in die sterrykste gebied van ons Melkweg, naamlik na die middelpunt van ons galaksie.

Dit is in die omgewing van die Skerpioen en die Boogskutter waar dit wemel van ander hemelsvoorwerpe as net sterre, soos oop sterrehopies, bolvormige sterrehopies, nebulae (gaswolke), dubbelsterre en selfs hele galaksies. Kyk gerus met `n verkyker in hierdie omgewing rond om `n paar aaah-oomblikke te belewe.

Op die 21ste Junie het ons al die Wintersonstilstandpunt beleef, maar die dae word eers op die 7de Julie in die oggende langer (met een minuut per dag) nadat ons verby die verste punt van die Son op die aardwentel-baan gespoed het teen 107,000 km/uur. (Teen hierdie spoed is daar hoop dat die winter ook gou verby sal gaan.) Vanaf die 16de Junie geskied die sonsondergange reeds later met `n minuut elke dag. Die somer kom definitief !

Volmaan is op die 7de Julie en Nuwe Maan is op die 22de Julie.

Mercurius word in die middel van die maand weer `n helder aandobjek welliswaar nog baie naby aan die son en net sigbaar tot middel September vanaf Gordon`s koppie.

Venus is nog met magnitude -4.1 die helder oggendster en sal dit tot aan die einde van die jaar bly.

Jupiter (mag. -2.7)is sigbaar die hele nag in die sterrebeeld Steenbok .

Saturnus (mag. 1.0) is sigbaar in die vroeë aand in die stertgedeelte van Leo wat op sy rug lê maar eerder herkenbaar is aan die omgekeerde vraagteken of sekel.

Voor die sterrebeeld Scorpius, die Skerpioen, wat almal maklik behoort te vind omdat dit soos die ware Jakob lyk, is daar twee helder sterre wat die sterrebeeld Libra, die Weegskaal voorstel.

In die antieke tyd was dié twee sterre, α en β Librae deel van `n groter Skerpioen en hulle arabiese name Zuben el Chamali en Zuben el Genubi beteken vandag nog die Noordelike en Suidelike Knypers van die Skerpioen respektiewelik, maar in Julius Caesar se tyd is hulle van die Skerpioen afgesny en tot die twaalfde diereriem-teken verander.

Die Weegskaal is die enigste nie-lewende diereriemteken en is ter ere van Julius Ceasar ingestel nadat hy die Romeinse Kalender hervorm het. Dit word as die weegskaal van geregtig-heid voorgestel om Julius Caesar se gebalanseerde sin vir geregtigheid te simboliseer.

Terloops, ons hedendaagse kalender wat op die Romeinse een gebaseer is, is nog net `n kwart dag per jaar uit sodat ons net elke vier jaar `n skrikkeldag nodig het om die kalender met die sterre te sinkroniseer en nie meer 14 dae elke jaar soos lank gelede nie.

In die suide is die drie kruise nou baie mooi sigbaar bokant die Swartberg. Dit is nou veral opvallend hoe naby die Skerpioen aan die Suiderkruis is.

In die suidelike rigting huisves ons sterrehemel ware pêrels wat reeds met `n verkyker opgespoor kan word soos die dubbelster Acrux, helderste ster in die Suiderkruis, Omega Centauri, die mooiste bolvormige sterrehopie in Centaurus, die Eta Carina newel tussen die Suiderkruis en die Valskruis en natuurlik ons mooi buurgalaksie, die Groot Magellaanse Wolk.

Hou die sterre in jul oë!

No comments: