Tuesday, June 30, 2009

Griet Jacobs word 90

- Neville Claassen -

Griet Jacobs is gebore op 15 Junie 1919 in die eertydse Rooikamp. Sy het saam met haar susters en broers hier in Prince Albert grootgeword. Tannie Griet, beter bekend as "Aunty Ragel" aan vriende en familie, het tot standerd ses (graad 8) skoolgegaan en moes toe gaan werk. Sy is na Kaapstad waarheen baie van die plattelandse meisies gegaan het om in fabrieke of as huisbediendes te gaan werk. Advokaat Jack Friedman het Aunty Ragel ingeneem en sy het 30 jaar vir die gesin gewerk en sy het selfs na Worcester saam met hulle verhuis waar sy haar toe gevestig het. Hier het sy in die huwelik getree met Abraham Jacobs wie haar intussen ontval het.

Na haar man se dood het een van haar susters by haar ingetrek en het die tweetjies mekaar opgepas. Die suster, Katriena, is ongelukkig ook oorlede en die familie het toe besluit dat sy huistoe moes kom. Sy het haar in Prince Albert by haar enigste oorblywende suster, Paulina, kom aansluit wie op daardie stadium by die hospitaal gewerk het. As gevolg van die werkslading kon haar suster haar nie langer versorg nie, en is sy in die bekwame hande van die personeel by Huis Kweekvallei geplaas.
Alhoewel Aunty Ragel se spraak aangetas is as gevolg van 'n beroerte, is sy steeds 'n aktiewe lidmaat van die AGS-Kerk, en sorg Ouderling Kammies dat sy steeds Sondae gehaal word vir dienste. Sy is 'n bok vir sports en kan mens kan nog 'n grappie met haar deel.

Ons wens haar alle sterkte toe en is steeds dankbaar vir dit wat sy vir haar familie beteken het in die dae toe sy nog gewerk het. Sy is steeds dierbaar vir ons.

No comments: