Tuesday, June 30, 2009

MUSEUMNUUS

Algemene Jaarvergadering van die Museum

Op Woensdag, 17 Junie, het die Fransie Pienaar Museum sy Algemene Jaarvergadering gehad. Oud en jonk het die koue trotseer om te kom luister en sommer gesellig saam te verkeer.

Na die vergadering het ons na ‘n DVD gekyk wat Michael en Gunda Brünner saamgebring het. Michael, ‘n akteur, was vir baie jare deel van die Isidingo-span. Gunda, ‘n kunstenares, het in Duitsland grootgeword, na Suid Afrika gekom, Michael hier ontmoet, en hulle is getroud. Terwyl Michael elke dag by die SAUK aan die Isidingo reeks gewerk het, het hulle begin uitkyk vir ‘n spesiale plekkie om te koop. ‘n Plot, 65 km buite Johannesburg, het by hulle byval gevind.

Die egpaar het besluit dat die huis wat hulle op die plot gaan bou, so ver moontlik met boumateriaal uit die natuur, van hul eie grondjie, sou kom. Alles is haarfyn beplan. Die kleigrond wat uitgegrawe is vir die stene, wat self vervaardig is, het later die regte grootte gat voor die huis geword vir die swembad, wat ook veeldoelig sou wees. Die swembadwater en pomp moes altyd gereed wees in geval van ‘n brand, want die huis se dak is met riete van hul eie plot gedek en daar was geen sprake van ‘n brandweerstasie naby hulle nie. Selfversorgend in alle opsigte, was dié egpaar se wagwoord.

Die plot was oortrek met swart “wattle” bome,‘n indringerplant. Dié regop bome is uitgehaal om plek te maak vir die bouperseel en sou nou deel word van ‘n “groter” plan. Die huis, en al die buitegeboue wat ons op ‘n gewone plaaswerf sou vind, is binne ‘n hoë ringmuur gebou. Een hek, die ingang tot die Brünners se “Fort”, is saans gesluit en dan was die egpaar met al hul plaasdiere veilig.

Stenemaak was ‘n stadige maar effektiewe proses. Michael het sy eie steen-vorm ontwerp en elke reuse steen het bestaan uit kleigrond, klippe en een derde sement. Michael sê dat wanneer dié mure eers droog was, kon jy maar alles probeer, ‘n spyker kry jy nie ingeslaan nie.

Huis klaar gebou, sonpanele pryk op die dak, hoenders en kuikens skrop op die werf rond, Gunda sit op haar hurke en voer die ganse, almal is gelukkig en tevrede. Reg? Verkeerd!

Michael en Gunda soek baie duidelik na nóg ‘n uitdaging. Hulle besluit om ‘n boot te bou. Die “Wattle” bome staan mos die wêreld vol!

Elke oggend ry Michael die 65km SAUK toe en saans kom hy huis toe, maar sy heup begin al meer probleme gee. Die boot is later klaar gebou. Die egpaar verkoop hul Fort-huis en vir die volgende twee jaar seil en leef hulle in dié boot. Hulle koop later ‘n karavaan, begin rond-reis, en beland so op Prince Albert.

Welkom, Michael en Gunda! Ek kan nie help om te wonder wat dié twee volgende gaan bou nie!

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: