Tuesday, June 30, 2009

Kom Dans Klaradyn...

Kampioendansers Samian Jurnaal en Mark Adams poseer saam met plaaslike sangeres Yurica Opperman en ander jong dames wat groot pret by Prince Albert Primêr se Maskerbal gehad het.

- Sammy Delport -

As jy nie op Vrydag 5 Junie by die VGK saal was nie, het jy voor-waar iets gemis. Prince Albert se mense het gelangarm dat die biesies bewe – foxtrot, cha-cha, tango, samba, rumba, wals, quickstep, pasa doble en jive! Prince Albert Primêr het die maskerbal georganiseer ten bate van die gr. 9-toer fondsinsameling. Behalwe die fonds-insameling, wil ons jongmense bekend-stel aan langarm en dit ook weer in die gemeenskap vestig as ‘n goeie vorm van vermaak, oefening en stresontlading.

Die gr 6 leerders het hard gewerk om al die maskers te maak terwyl die gr 9 leer-ders o.l.v Emmy Willemse en Matilda Mooneys die saal versier het. Denise Ohlson het dit só opgesom: “Ek kon my oë skaars glo. Die saal was waarlik sprokiesmooi en ons het ons maskers gedra wat Klara en Siemon Joubert spe-siaal vir ons gemaak het. Later het ons ‘n bordjie heerlike eetgoed en ‘n glas wyn ontvang. Ek hoop beslis die skool doen dit weer. Strictly Come Dancing kan maar Prince Albert toe kom!"

Terwyl Derek Hendriks en sy orkes ons vermaak het, kon ons die hoogtepunt van die aand aanskou... Suid-Afrika se kam-pioen dansers, Samian Jurnaal en Mark Adams van Beaufort-Wes, het vir ons gewys hoe daar regtig gedans moet word! Mike Upton, wat self ‘n profes-sionele danser is, was in verwondering: “Ek het nog nooit soveel pret in Prince Albert gehad nie! Samian en Mark is fantasties. Hulle het die talent, skoon-heid, tegniek en persoonlikheid om internasionale sterre te word. Hulle is baie professioneel en ek sien uit daarna om hul loopbaan te volg, want hulle is van die beste wat ek nog gesien het."
Inderdaad, hulle gaan juis in September Suid-Afrika in Sjina verteenwoordig en dan in Desember gaan hulle vir die Russe wys hoe die jong mense van Beaufort-Wes kan dans. Ons wens hulle alle sterkte toe.

Ons besoekers het ook van hul goue medaljes aan 3 paartjies oorhandig wat met mening gewals het. Die gelukkiges was Mietie en Neville Tarentaal , Johan en Mari du Toit, Mike Upton en Ellen Joubert. Twaalf uur het te gou aange-breek, maar almal wou nog ‘n dansie inkry met Samian en Mark. Baie dankie aan almal wat saamgewerk het om dit ‘n sukses te maak.

Mnr Sammy Delport sien uit daarna om volgende kwartaal danslesse aan te bied. Mnre Adams en Jurnaal (die onderskeie vaders van Mark en Samian), bedryf die D&D Dansskool in Beaufort-Wes, en ons het hulle genooi om vir ons te kom tou wysmaak. Kyk uit in die Vriend vir die datums, tye en koste van die lesse.

Ons sien julle by die LENTEBAL wat op 4 September sal plaasvind

No comments: