Tuesday, June 30, 2009

Wêreld Omgewingsdag

Op 5 Junie, ‘n regte wintersdag in die Sydwell Williams Sentrum, het kinders van Prince Albert Primêr die saal volgepak vir ‘n opwindende program gereël, deur die Department Omgewingsake en Toerisme. Die oorhoofse onderwerp waarop al die voorleggings gemik was ‘klimaatsverandering’ wat tans die verbeelding van die hele wêreld aangryp.

Die eerste spreukbeurt van Ellen Joubert het die ernstige onderwerp van herwinning omskep in ‘n vermaaklike en leersame demonstrasie. Die kinders se deelname was ‘n bewys van haar effektiewe manier van kommunikasie. Die moontlikheid van sakgeld vir hul inisiatief sal seker hierdie herwinningsprogram vinnig op die been bring.

Die treffende fotobeeld van Tafelberg in die Kaap het as agtergrond gedien. Omskep in ‘n ysberg op ‘n koue see was dit ‘n verbeeldingryke manier om die punt tuis te bring – klimaatsverandering is hier op ons drumpel – ons mag nie dink dat ons dit kan verontagsaam nie. Met hierdie uitgangspunt is die voorleggings voortgesit: herwinning het ‘n rol om te speel wat kan lei tot besparing van energie uit onvolhoubare natuurbronne; ontwikkeling vereis geweldig baie natuurbronne, water onder andere, en tensy die impak bekamp word, kan dit lei tot vernietiging van natuurbronne. Laastens, het Sue Milton-Dean die uitwerking van klimaatsverandering op die omgewing aangeraak met ‘n skyfie vertoning. Weereens was die geesdrif en deelname van die kinders ‘n aanduiding van hoe die jonger geslag veral ‘n goeie begrip van die kwessies van ons tye het. Hulle besef dat hul wel deel van die oplossing is.

‘n Plaaslike musiekgroep het die gehoor vermaak, en ‘n opvoering deur leerlinge van Prince Albert Primêr het die gehoor laat skaterlag oor hul kort toneelspel van werkers in hul uniforms wat die omgewing besoede,l en die vrou – kompleet met doek – wat hulle uitskel oor hul onverskilligheid.

No comments: