Tuesday, June 30, 2009

Boekenuus

Prince Albert Openbare Biblioteek

Lang Skaduwees in Afrika

Connie Luyt is as skrywer bekend vir ligte romans. Met die versky-ning van Lang Skaduwees in Afrika het sy lesers egter verras met ‘n roman wat hart en siel aanraak en deeglik nagevors is.

“...Spyt en verwyt vreet die fondament van ‘n mens se bestaan weg tot die hele fondament inmekaar sak. Dit maak dat jy niks kan geniet of waardeer nie.” (Maia van Breda) Hierdie aanhaling is vir my die kern van hierdie verhaal.

Die boek word in drie dele vertel en handel oor drie vroue: hoe swaarkry en verlies hulle lewens help vorm het. ‘n Verhaal wat begin in Suid-Afrika, oorloop na Kenia en weer terug na Suid-Afrika. Die eerste verhaal is dié van Francine van Rensburg en lê die grondsag vir die res van die vroue se verhale. Sy is die kern-karakter uit wie haar nageslag later hulle krag en wysheid sou put.

Francine se dogter, Maia, se verhaal word in die tweede deel vertel en háár dogter, Christine, in die derde deel. Hoe-wel Christine se deel die kortste is, is dit die belangrikste en wou die skrywer eintlik háár verhaal vertel, maar kon dit nie doen sonder dié van die voormoeders nie. Om haarself te verstaan moes Christine eers in haar familie se spore terugloop.

Spore is die werkstitel van die verhaal: spore wat jy vul, spore wat jy volg en spore wat jy nalaat. Ook dat jy die hede deur die verlede verstaan.

Lang Skaduwees in Afrika is allermins ‘n morbiede verhaal. Uit al die swaar spruit daar altyd hoop. Francine sê dan ook “...ons vroue probeer uit wanhoop iets skep...” Daar word oor ‘n interessante deel van die geskiedenis geskryf waaroor baie min inligting beskikbaar is, nl die Afrikaners wat hulle ná die Anglo-Boereoorlog in Kenia gaan vestig het. Soos een van die resensente tereg gesê het: “...Wat ‘n juweeltjie. Dit lees so glad soos seep en is goed geskryf, lees vlot, is onopgesmuk en boei enduit.”

Ronél McKnight

No comments: