Tuesday, June 30, 2009

Op die Otter Staproete

- Sara-Mari du Plessis -

Op 13 Mei het 12 opgewonde stappers die Otter Staproete aangepak: vyf van Prince Albert: Leon de Wit, Sara-Mari du Plessis, Amelia le Grange, Karel en Dolla Grové, ses van Kaapstad: Madri du Plessis en Donovan Cooper, Petro Slabbert, Marion Willson en Danie Kritzinger, Ewald van der Westhuizen en Jack Ansell, ‘n regte Engelsman van Johannesburg. Hy het die lekkerste beesbiltong saamgebring!

Vir ‘n paar was dit ‘n tweede keer en vir een ‘n derde keer. O, daar’s verskillende redes waarom mense hierdie moeder van alle staproetes wil ervaar, maar die grootste rede is sekerlik die ongelooflike skoonheid van die kuslyn. Ons het die beste weer gehad wat jy kon wens; ‘n groep van tussen 20 en 30 dolfyne gesien wat waarskynlik besig was om jag te maak op ‘n skool vis, voëllewe, interessante plante, blomme en ‘n groot veld van spinnerakke wat horisontaal oor bosse gespan is. Plato-uitsigte tot op verre horisonne. Lang paaie deur die woude, paadjies wat op en op en op en, nes jy dink jy’s bo, ….nog op zigzag en weer af en af en af tot heel onder by die mooiste riviermondings en klein strandjies.

Elke aand was daar “mak” muskeljaatkatte wat buite bereik in die skadu’s rondom die hutte geskuil het in afwagting op oorskietkos. Een het verby gesluip tot binne ‘n hut, ‘n sak met proviand gegryp en laat spaander. Gelukkig was die reddingspoging suksesvol. Saans om die vuur is gekuier en klere en slaapsakke wat in die rivier nat geword het, in die rook drooggemaak. Ja, die Bloukransrivier was toe nie heeltemal speletjies nie, want alhoewel dit laagwater moes wees, het die stormweer van die Kaap (waarvan ons onbewus was) tot dáár die seegety beïnvloed.

Soveel verskillende persoonlikhede wat dieselfde ervaring gedeel het en aan die einde kon ek sê: dit was almal my mense.

No comments: