Tuesday, June 30, 2009

Natuurbewaring studente bied omgewingsleer aan

- Aneléh Vorster -

Die Graad 8b klas van Prince Albert Primêr, onder leiding van Mnr. Jacobus Minnaar, het Renu-Karoo Veld Restoration op Donderdag, 21 Mei besoek. Die leerlinge is onderrig in omgewingsleer deur twee Natuurbewaring studente.

Die derde-jaar studente, Rudi Swart en Aneléh Vorster, studeer Natuurbewaring by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in George by die Saasveld Kampus. Hulle is tans besig met hul praktiese jaar en werk by Renu-Karoo onder Prof. Dr. Sue Milton-Dean as hul mentor. Hul derde jaar bestaan uit praktiese opleiding waarin hulle ondervinding moet opdoen in vele aspekte van die natuur en die bewusmaking daarvan. ‘n Groot deel daarvan sluit omgewingsleer vir die gemeenskap in.

Die leerlinge is op ‘n baie praktiese en humoristiese wyse bewus gemaak van die wonderwêreld van plante. Die studente het die funksies van die verskillende plantdele, metodes van bestuiwing van blomme en verspreiding van sade verduidelik met praktiese voorbeelde. Die interessante, unieke aanpassings van Karoo-plante om te kan oorleef in die bar, droeë omgewing, is ook bespreek. Die leerlinge het in groepe gewerk en sketse met byskrifte gemaak van plante en die bestuiwer van daardie spesifieke plant. Hulle het ook geleer hoe om steggies van plante te maak asook om sade te plant. Elke leerling het sy eie bakkie met plantsteggies en sade huistoe gevat aan die einde van die dag. Die projek sal gemonitor word deur die leerlinge self. In die weke wat kom sal die plantsteggies se groei en sade se ontkieming met opgewonde kinderoë dopgehou word. Die resultate sal aangeteken word in tabelvorm en in aanmerking kom vir hulle eerste semester punt.

Die behoefte van terreinversiering by die skool is raakgesien deur Renu-Karoo. Spekboomsteggies en Witkareebome is aan die skool geskenk om in die behoefte te voorsien. Die leerlinge, studente, onderwysers en Renu-karoo personeel het almal deelgeneem in die plant van die steggies en bome op die skoolterrein. Daar word gehoop om oor ‘n paar jaar van nou af ‘n duidelike verbetering te sien sodat leerlinge van Prince Albert Primêr voordeel en plesier daaruit kan kry.

Almal is dit eens dat dit ‘n baie verrykende en leersame ervaring vir beide die leerlinge en studente was. Renu-Karoo en Prince Albert Primêr beplan om in die nabye toekoms weer saam te werk en nog klasse in omgewingsleer aan te bied.

No comments: