Tuesday, June 30, 2009

Robbie Cairncross besoek Prince Albert

- Tobie en Andéne Gous -

"Ek het die sondaarsgebed gedoen en vrede gevind. Dit wat ek nie in geld, vinnige motors, dwelms en drank kon vind nie, kon gebed my bied.”

Dié pragtige woorde kom uit die mond van dr Robbie Cairncross, wêreldbekende geloofsprediker wat reeds derduisende mense na die Here gelei het. Dié man, wat sestien jaar gelede sy “Jesus Be Set Free” bediening begin het, was onlangs in Prince Albert op uitnodiging van Renier van Niewenhuisen, wat ook as sameroeper van die Cairncross program opgetree het.

Almal is baie opgewonde oor die wonderwerke wat plaasgevind het toe Robbie in die dorp was. Baie mense het die teenwoordigheid van die Here ervaar en talle genesings is opgelet: bene wat weer uitgroei en ‘n klomp krukke wat weggegooi kon word!

Robbie het in die veld gewerk, tussen die mense in hul huise en hul besighede. Tydens een van sy gewilde ontbyt-sessies wat Saterdagoggende plaas-gevind het, het hy ook ‘n lesing gegee vir mense oor hoe om finansiële skuld geestelik te vereffen.

Dr Cairncross, wat ‘n hele rits grade agter sy naam kan skryf, vertel dat hy as weeskind deur ‘n Skotse familie aangeneem en grootgemaak is. Hy weet dat sy biologiese ma, toe sy aan hom geboorte geskenk het, gebid het: “Here, ek gee hom vir jou, beskerm hom en gebruik hom vir jou koninkryk.” Sy was ‘n Afrikaanse meisie van Ladismith wat weens godsdienstige oortuigings nie met sy Griekse pa kon trou nie.

Sy lewe het verder goed verloop en hy was ‘n multimiljoenêr toe ‘n man op ‘n dag by sy besigheid instap en uit die bloute vir hom sê dat as hy hom nie bekeer en wedergebore raak nie, hy deur sy sonde gaan sterf. “ Ek het hom eers verwilder, maar toe weer teruggeroep. Hy het my oortuig om my lewe te verander. Ek het my besigheid weggegee en nooit weer teruggekyk nie.” Dat sy nuwe lewe nie sonder uitdagings was nie, erken hy. “Ons het moeilike tye beleef, maar nooit het my familie vir brood gebedel nie.”

Hierdie was Robbie se derde besoek aan die Karoo. Op De Rust en Laingsburg is ook wonderwerke verrig tydens sy dienste. Al drie sy besoeke het ‘n ommeswaai in baie mense se lewens teweeggebring en Robbie sal sekerlik sy goeie werk in die Karoo voortsit.

Jesus Be Set Free TV kan elke Dinsdagaand om 20h30 en Vrydag-oggende om 11h00 op Spirit Word se kanaal gesien word. Miljoen mense kyk weekliks na sy program.

Vir enige navrae oor sy dienste of oor gebed, kontak 083 989 8149 of besoek www.JesusBeSetFree.tv

No comments: