Tuesday, June 30, 2009

Buitekantstraat slaan munt uit herwinningskema

- Ellen Joubert -

Uiteindelik het die herwinning terugkoop stelsel afgeskop en nou kan jy wins maak uit herwinning! Op Donderdag, 18 Junie, tussen 14h00 en 16h30 het die Munisipaliteit by die Sydwell Williams Sentrum geld uitbetaal vir herwinbare goedere wat soontoe gebring is.

Kort na 14h00 het ‘n hele tou kinders gewag om hulle sakke goedere te laat weeg. Munisipale werkers wat by die herwinningsprojek werk het eers elke sak deeglik inspekteer om seker te maak dat goedere reg sorteer is en dat nie-herwinbare goed uitgehaal word. Daarna is elke persoon se herwinbare goed soort vir soort geweeg en die waarde daarvan is daar en dan oorhandig saam met ‘n pragtige plakker wat aanmoedig om te “Herwin vir wins”. Almal is vriendelik bedank vir hulle bydrae en almal is gegroet met “Kom weer met meer!”

Teen die einde van die middag het 56 mense, waarvan meeste skoolkinders was, hulle herwinbares verkoop. Van hierdie 56 herwinners was 26 inwoners van Buitekantstraat! ‘n Mens sal dink Buitekantstraat het die res van Prince Albert die stryd aangesê om te sien wie die meeste herwinbares kan insamel en verkoop.

Die middag het net oor die 1 ton herwinbare goedere met ‘n waarde van R263 gelewer. Herwinners het met enige iets van 15c tot R14 weggestap. Een herwinner het 730 kg glas vir R147 aan die projek verkoop!

Die Munisipaliteit beoog om elke tweede Donderdagmiddag vanaf 14h00 ‘n terugkoop geleentheid by die Sydwell Williams Sentrum te bied. Herwinners wat hulle goedere hier wil verkoop moet seker maak dat hulle goedere soort by soort sorteer is.

Geen gebreekte glas kan aanvaar word nie. Die doppies van plastiekbottels moet afgehaal en apart gehou word – die doppies word tans teen 40c per kilogram teruggekoop. As jy papier bring, moet wit papier (die papier waarop fotostate gemaak word en die papier in skool skryfboeke) apart gebring word van tydskrifte en koerant.

Die waarde wat vir elke soort herwinbare uitbetaal word verskil van tyd tot tyd en die prys hang af van die waarde waarteen die herwinbare goedere verkoop kan word. Op 18 Junie was die waarde per kilogram van elke soort herwinbare die volgende: plastiek 65c, plastiek bottels 50c, blikkies 45c, glas 20c, karton 20c, wit papier 40c, koerant en tydskrifte 7c, plastiek bottel doppies 40c.

As jy reeds ‘n herwinner is wat jou herwinbares op ‘n Donderdag vir kolleksie uitsit, moet jy asseblief aanhou om dit te doen. Daar is nou weer voldoende sakke vir die projek beskikbaar en jy sal ‘n leë sak kry in ruil vir elke sak wat jy uitsit. As jy so gaaf is om jou herwinbares te sorteer moet jy asseblief daarmee aanhou. Die trekker laai die sakke net so op en dit maak die taak van die sorteerders by die projek baie makliker as goedere klaar sorteer is.

As jy nog nie ‘n herwinner is nie, is dit hoog tyd dat jy een word. Sit jou goed op ‘n Donderdag uit of bring dit na die herwinningshok by die stortingsterrein of kom verkoop dit weer op 2 Julie by die Sydwell Williams sentrum. Vir vrae - bel die Munisipaliteit of vir Ellen Joubert by 023 5411 953 of vir Imke Maeyer by 023 5411 184.

Die herwinningsprojek vra alle boere wat ekstra 50kg sakke het om dit aan die projek te skenk.Bel vir Ellen Joubert by 023 5411 953 of 0711556229.

No comments: