Sunday, August 30, 2009

Baptiste Kerk doen Evangelisasie in Mosambiek

-Billy van Rooyen -

Tydens die skoolvakansie het ek saam met lede van die Mosselbaaise Baptiste Kerk evangelisasie-werk in Mosambiek gaan doen. Vyftien lede het, op eie onkoste, amper 1900 km gery van Mosselbaai tot in Maputo. Omdat ek nog nooit daar was nie, het ek nie geweet wat om te verwag nie, maar toe die pastoor en sy vrou by ons aankoms ingewillig het om in hul half-klaar kombuis te gaan slaap sodat ons in hul kamer kon bly, het ek besef dat die Here ons na besonderse mense gelei het. Kommunikasie is’ n probleem, omdat meeste van die mense Portugees praat, maar tolke het ons gehelp, al het dit beteken dat ons nie deur-tot-deur evangelisasiewerk kon doen nie.

Ons eerste kerkdiens in hul half-geboude kerk het my so aan ons eie kerk hier in Prince Albert herinner. Die struktuur is nog nie klaar gebou nie, maar hul ywer om die Here te dien is so groot, dat hulle reeds dienste hou.
Ons kla tog so maklik oor alles, maar die besoek het my laat stil word en met ‘n hart van dankbaarheid het ek my seëninge een vir een begin tel. Hoe geseënd is ons in Prince Albert! Ja, daar is goed wat moet en kan verbeter, maar in vergelyking met die mense in Mosambiek kan ons net op ons knieë sak en sê: Dankie Here, dankie vir ons teerstrate, dankie vir ons skole en onderrig, dankie vir ons behuising, dankie vir ons publieke vervoer, dankie vir ons maatskaplike diensteen werksomstandighede. Dankie vir alles wat ons hier in Prince Albert het. Huise, sonder hoë baksteen heinings, waar ons nog ons bure kan sien en groet.

Met nuwe deernis in my hart het ek ervaar hoe die mense van Mosambiek, al kry hulle hoe swaar, die Here dien . Ek sien uit na ‘n opvolg besoek. Dit is my gebed dat die Here my sal gebruik om deur gemeenskapsdiens en betrokkenheid, Sy Woord aan so veel moontlik mense bekend te maak.

No comments: