Sunday, August 30, 2009

Ouma Miena bereik haar honderdste jaar

- Linda Fodor -

Toe broer Billy van Rooyen my vertel van Ouma Miena Beukes wat op 1 September 100-jaar jonk word, het ek nie verwag om ‘n tannie te sien wat nog kietspennetjie regop sit en 7de Laan kyk nie.

Ouma Miena hekel, lees haar Bybel, gaan elke Sondag kerk toe en doen nog alles vir haarself. Sy is gebore op Swartrivier, die oudste van vier broers en vier susters.

Ouma Miena het begin werk deur kinders op te pas toe sy skaars in sub A was. Toe sy ouer was, het sy haar dogter Sophia Januarie (nou 73) in die sorg van familie gelaat en sy het Pretoria toe getrek en lank daar gewerk. Haar werkgeefster was ‘n onderwyseres en sy het Ouma Miena leer lees en skryf sodat sy vir haar ouers in Prince Albert briewe kon skryf en geld huis toe stuur.
Na sy ‘n ruk in Cradock gewerk het, het sy terug gekeer Prince Albert toe. Sy en haar oorlede eggenoot, Frans Mienie, het 4 kinders gehad. Hul oudste, Magdalena Boksman, is in 2006 oorlede, maar Sarah Stalmeester, Sabiena Afrika en Elizabeth Mienie en al die kleinkinders, gaan hul moeder en ouma se verjaasrdag met groot blydskap vier.

No comments: