Sunday, August 30, 2009

Sterreprag oor die Suide

- Hans Daehne -

In September kan ons volgens die kalender sien dat dit Lente geword het en in die naghemel word dit bevestig deur die prominente verskyning van die sterrebeeld Pegasus bokant ons koppe. Op die aarde verklap die ryk blommeprag en al die bloeisels op ooghoogte dat die dae merkbaar langer geword het.

Pegasus, die Vlieënde Perd, (herinner ons daaraan hoe vinnig die tyd vlieg ) is die dominante noordelike sterrebeeld in September en Oktober en met die Lente dag-en-nag-ewening op die 22st September word dit met reg die Lentesterrebeeld genoem wat ook aandui dat die dae nou langer word as die nagte in die Suidelike Halfrond.

Die yslike Vierkant van Pegasus is maklik om uit te ken aan vier helder sterre wat die romp van die perd voorstel met sy nek uitgestrek na links, na wes. Dit is een van die min noordelike sterrebeelde wat in die regop posisie is vir ons hier in die suidelike halfrond.

Die vinnige planeet Mercurius is tot middel van die maand met die blote oog in die aand sigbaar vanaf Gordonkoppie.
Venus is nog die helder oggendster vir die res van die jaar.

Jupiter is op die oomblik die helderste objek in die aandhemel en is in die sterrebeeld van die Steenbok. Naby Jupiter kan die blouerige Neptunus reeds met `n verkyker opgespoor word, maar makliker met `n "vind en volg" teleskoop .

Nuwe Maan is op die 18de September en Volmaan op die 4de September.

Ons Lente-ewening vind op die 22 ste September plaas.

Nuus van buite die Aarde:

Nadat die pendeltuig Atlantis in Mei die Hubble ruimteteleskoop gevang en suksesvol omvattende herstelwerk uitgevoer het, wag almal nou in spanning hoe die nuwe foto`s uit die ruimte sal lyk.

Een so `n foto het reeds verskyn en dit wys Jupiter met `n groot inploffingsgat wat tweekeer groter is as die oppervlakte van Europa. Wat egter meer skrikwekkend is, is die feit dat daar geen voorafwaarskuwing was oor die voorwerp wat Jupiter op verrassende wyse getref het nie.

Van vlieënde tyd gepraat, dit is net vir ons aardlinge dat tyd so vinnig verbyvlieg. In die heelal speel tyd glad nie so `n belangrike rol nie, die univers het baie tyd en gebeurtenisse in die univers
neem hulle tyd. Ons meting van tyd word deur die aarde se rotasie en die Son bepaal. Wanneer die Son presies bokant ons is, is dit 12:00 middag Sontyd, maar wanneer byvoorbeeld Orion bokant ons is, is dit 6:00 Sterretyd en met Pegasus bokant ons, is dit 24:00 sterretyd.

As jy nie met die 24 ure van `n dag op aarde uitkom nie sal jy op Jupiter en Saturnus met dae van omtrent net 10 ure werklik in tydnood raak en sou die enigste oplossing wees om na Venus te trek waar `n Venusdag langer is as `n Venusjaar.

Die arme bewoners van die Internasionale Ruimtestasie (IRS) se dae is net 90 minute lank (= die omwentelingstyd om die aarde) maar daarvoor kan hulle ook soveel meer sonsopkomste en sonsondergange oor `n ronde aarde waarneem.

Inligting oor die Internasionale Ruimtestasie , wanneer dit sigbaar is en in welke rigting en vir hoe lank dit oor die aandhemel beweeg, is verkrygbaar op die webwerf: www.heavens-above.com

Hou die sterre in u oë !

No comments: