Sunday, August 30, 2009

Prince Albert se Speurdiens in Kapteinshande

- Denise Ohlson -

In Desember hierdie jaar vier kaptein Rudi Ferreira sy mondigwording in die polisiediens. Van sy 21 jaar troue diens het hy sowat twee jaar in Merweville gewerk en die res van die tyd het Prince Albert die vrug gepluk van hierdie opregte polisieman se dissipline en ywer.
Sedert die einde van 2005 is hy Bevel-voerder van Speurdiens en tweede in bevel van ons Polisiestasie. Die Speurdiens bestaan uit die bevelvoerder, vyf speurders en een administratiewe beampte. Die eenheid hanteer gemiddeld so vier tot ses inbrake en diefstalsake per maand.

“Dit is ‘n treurige statistiek dat kinders betrokke is by 90% van alle huisbrake,” sê Rudi. “Ons werk nou saam met Maatskaplike Dienste en ander rolspelers om kinders te rehabiliteer.

Daar is verskeie projekte in plek en kampe word aangebied om kinders se energie in positiewe kanale te stuur eerder as dat hulle by negatiewe en kriminele dinge bly vassteek.” Hy wys ook daarop dat ‘n kind, voordat hy hof toe gaan, eers geasseseer moet word.

Motorbotsings, aanranding en veediefstal is sake waarmee die Speurdiens ook gereeld te doen kry. Saakbeskadiging en aanranding kom algemeen voor, veral oor naweke wanneer drankmisbruik ‘n groot rol speel. “Dit is van die grootste belang dat die publiek nie met enigiets peuter wat leidrade kan versteur nie,” waarsku Rudi. “Die Speurdiens kan sy rol aan die gemeenskap soveel flinker vervul as daar duidelike vingerafdrukke en onbelemmerde getuienis op ‘n misdaadtoneel gevind word. Die beste raad is om niks aan te raak nie - wag totdat die polisie opdaag.”

In vergelyking met die res van die land het Prince Albert eintlik ‘n lae misdaadsyfer. Rudi glo dit kan so bly as die publiek sake onmiddelik rapporteer, die polisie bystaan om getuienis in te win en inligting sonder skroom deurgee. “In Prince Albert kon ons nog altyd staatmaak op die samewerking van die gemeenskap. Die inligting van beriggewers help ons baie en ek is trots op die sukses wat ons speurders behaal.”

Rudi is al 14 jaar getroud met Chrisna, ook ‘n polisievrou, en hulle het twee seuns, Ryan (12) en Jean (8). Saam bly hulle gelukkig en gevestig in hul eie huis en bou onverpoosd voort aan hul loopbane in die polisiediens.

No comments: