Sunday, August 30, 2009

Kix staan sterk

- Susan Viljoen -

Kix (Kinders in Christus), vroeër bekend as “Die Kinderkrans”, is ‘n aktiewe jeugbeweging van die NG Kerk - maar alle kinders uit énige kerkverband (van voorskool tot graad 7) - is welkom om elke Woensdagmiddag van 3.30 tot so 4.15 in die NG Kerksaal bymekaar te kom vir die program van die dag. Leidsters sorg vir saamsing, saamspeel en gee aandag aan verjaarsdae. ‘n Geestelike lessie wat met ‘n praktiese aktiwiteit geïllustreer word., word dan aangebied. Ons bedien tussen 30 en 70 kinders op ‘n keer.

Elke jaar is daar ‘n deurlopende tema wat deur die Sinode voorgestel word. Vanjaar val die klem op die agt kleuterskole van die Malingunde omgewing in Malawi. Hier word kleuters besig gehou deur onopgeleide “onderwysers” en apparaat is ‘n reuse probleem. Kix gee ook ‘n bydrae vir hierdie kleuterskole. Die geld wat Prins Albert se Kix insamel, is toegeken aan die Mbendera kleuterskool.

‘n Paar entoesiastiese persone onder leiding van ds. Gielie Loubser, Sinodale predikant vir jeugbediening van die NG Kerk, gaan die kleuterskole gedurende 2010 besoek.. Hulle neem apparaat saam, gaan help met opleiding, en gaan die geld wat deur Kix ingesamel is, oorhandig.

Dit is wonderlik om te ervaar hoe ons mense spontaan saamwerk, bydra en ondersteun. Die volgende mense is tans bereid om hul tyd te gee en ons is bevoorreg om Amelia le Grange, Hannetjie Gouws, Annetjie Botes en Kobus Fourie te bedank vir hul entoesiasme en die goeie werk wat hulle vir Kix doen.

Tydens die pas afgelope basaar het Kix hul poppekas Maatjies in die kerksaal opgevoer. Sestig kinders het saam met hul ouers, oumas en oupas, die verhaal van Frikkie (Diederik le Grange), Apie (Amelia le Grange) en Wilmien (Annelien de Wit) met oorgawe geniet. Teen R2 per persoon, was dit die absolute winskoop van die basaar!

No comments: