Sunday, August 30, 2009

HADASSA in Prince Albert

- Jacolise Botes -

As mens die verhaal van Ester in die Bybel lees, leer jy hoe sy en ander meisies in opdrag van die koning voorberei is vir die spesifieke taak aan hulle. En dat hulle simbolies `n mantel ontvang het om te sê dat hulle uitgekies en toegerus is.

Ester is in die Joodse taal ‘Hadassa’ genoem, vandaar die naam Hadassa. Hierdie 2-dag vrouekonferensie word sedert 2006 landswyd aangebied deur fasiliteerders van die NG Gemeente Moreletapark en die gewildheid neem elke jaar toe.

Blye nuus is dat Prince Albert ook die voorreg kry om op 11 en 12 September 2009 `n Hadassa te hou! Met `n spanpoging van`n groot verskeidenheid dames in ons gemeente, gaan ons die geleentheid skep waar honderde vroue saam gaan optrek om die Here se teenwoordigheid en seën in hul lewens te bevestig. Dit word interkerklik gehou, sodat elkeen deel kan hê aan hierdie groot gebeurtenis en word met behulp van DVD op grootskerm tegnologie aangebied.

Die Vrouediens het reeds die NG Kerksaal bespreek en die kaartjies moet vooraf gekoop word by die Kerkkantoor. Dit kos R200 per persoon en die registrasies is vanaf 16h30 sodat die program 17h30 kan begin.

`n Span o.l.v. Johanna Luttig gaan sorg vir die voorgeskrewe uitstallings wat kenmerkend is van so `n Hadassa. Dit neem die vorm van `n roete aan wat jy kan deurgaan en telkens `n spesifieke boodskap raakloop. ‘n Heerlike program gaan sorg dat die ure vinnig verby gaan en Innes Benade en sy vrou gaan die sangleiding waarneem.

Daar is reeds groot belangstelling van besoekers vanaf Oudtshoorn, Rietbron, Merweville, Laingsburg, Leeu-Gamka en Beaufort-Wes.

Ons sien uit na `n baie spesiale naweek, opgewonde om ruimte en geleentheid te skep vir die werk van die Heilige Gees!

No comments: