Sunday, August 30, 2009

Gebakte vis, lewerkoekies, fudge en sjokoladekoek

- Denise Ohlson -

Spontane vriendelikheid en verskeidenheid is Estelle Marais se wenresep agter haar toonbank by Wimpels Kafee en Take Aways. Behalwe Sondae, maak sy haar deur elke oggend sesuur oop en vyfuur toe. Nee wag, Woensdae en Vrydae sluit sy eers sesuur…

Harde werk is vir haar poeding, en met die bedrewe en kundige Katie Deelman aan haar sy – vir wie niemand vertel van vis bak en vetkoek maak nie – sien sy vir alles kans. Fudge maak, koek bak, boeke doen en huisplanne beraam, is alles deel van haar dag.

Estelle het ‘n lang verbintenis met Prince Albert. Haar ma Pieterien was ‘n nooi De Wit wat in die distrik gebore is en Estelle het as kind graag in die dorp by familie kom kuier. Haar man Wimpie is ook hier gebore en sy eerste werk was as teller by die poskantoor. Toe hy vir verdere opleiding Kaap toe gestuur is, ontmoet hy vir Estelle en dit gee ‘n troustorie af.

Na so dertien jaar in die Kaap verhuis hulle Vosburg toe om hul eie besigheid te begin, waar hulle sewe jaar lank hul Poskantooragentskap en Algemene handelaarsaak bedryf. In Mei 2008 arriveer hulle op Prince Albert om hul wegneemetes te kom bemark.

Terwyl Estelle die kostoonbank “beman”, werk Wimpie vir ‘n oliemaatskappy in Viëtnam. Estelle is dankbaar dat hy in September vir drie weke vakansie huis toe kom. Daarna vertrek hy na die Midde-Ooste waar hy beoog om nog twee jaar lank te werk om hul boufonds te styf, want Estelle begin in Januarie bou aan hul huis... Sy visualiseer al die mooi badkamers.

Ek bekyk die interessante spyskaart en vra wat vir ‘n ding ‘n Gatsby is. “O,” sê Estelle, “as jy nou regtig swaar gewerk het en behoorlik honger is, koop jy ‘n Gatsby. Dis ‘n halwe brood met polonie en tjips en ons spesiale sousie”, en sy knipoog geheimsinnig.

Ek vra ook uit na die portrette teen die mure. “Almal familie,” lê sy uit. “Hier is Wimpie se ouers op hul troudag voor die hotel met die destydse National Garage in die agtergrond, en daar is sy ouma en oupa en hul huis in Gamkaskloof.”

Rika Landman kom koop haar vis in sy “krispie” korsie en sê sy kan dit sommer elke dag eet. Langs haar prys Andalene Kamfer die lewerkoekies en ek besluit om Vrydag die kerrievetkoek te kom uittoets.

Min mense kom Prince Albert toe om hulle ryk te werk. Estelle wil ook net besig bly en goed genoeg doen om gelukkig te wees. Sy wil die mense wat voor haar staan, help en “geniet”.

Gaan kyk maar gerus hoe sy haar in haar gebied uitleef tussen eiesoortige kennisgewings, uitstallings en spreuke teen die mure.

No comments: