Sunday, August 30, 2009

Swartrivier: ‘n Nuwe Era


- Miems Theron -

Die bakkies en vragmotors, stoet stadig verby op die stofpad voor ons huis. Hulle kreun onder die swaar vrag, hoog gelaai. Hulle ry weg van ons plaas. Hulle ry weg met ons hartsgoed. Die bod op hulle toegeslaan. Wettig gekoop.

Ek hou begrafnis van die plaas Swart-rivier. ‘n Lewe van 30 jaar word finaal uit jou uit geruk. Nooit weer sal ek indraai by die plaashek en veilig, afgesonder en geborge voel nie. Geskans teen die buitewêreld. Nooit weer sal die sterre so helder skyn, die stilte so werklik wees as op Swartrivier nie. Nooit weer sal ek snags die rivier hoor bruis na die reën en die windpomp hoor knars in die tuin nie. As die veld tog net leliker en droër was sou die afskeid makliker gewees het. Nou lyk dit soos ‘n tapyt - die groene wedywer met mekaar.

Dis Woensdag 29 Julie 2009. ‘n Datum wat ingemessel is in my brein. ‘n Datum wat ek nooit sal vergeet nie.

Die rygoed stroom in om betyds te wees vir die veiling wat elfuur begin. Hulle parkeer oral op die werf. Ek klim op die koppie en neem ‘n paar foto’s en sommer ook om afstand te kry. My oudste meisiekind, Erina en haar twee kleuters, is ook daar. Ons loop Oupa Nelie (72 ) en “ant” Makkie (74) raak. Hulle is al meer as 30 jaar in ons diens.

“Ja ou Kerneels,” sê my dogter. “Wat sê jy nou?” “Auk Nonnatjie”, sê hy. “Dis ‘n verkeerde ding dié. Hoekom bêre jou pa nie die plaas vir jou klein seuntjies nie. Hulle kan mos eendag hier kom boer.” Ek sluk en kyk oor die plaas heen. Here, prewel ek, wat doen ons aan ons kinders en kleinkinders? Ek kry my driejarige kleinseun nie weg van die skape nie. Hy klim op die trekker en ry brrm,brmm.

Die skape word gelaai op die vragmotors. Hulle is halsstarrig en word geforseer van agter af.

Zander sê: “Ouma, die skapies wil nie op die lorrie nie, nê ouma, nê. Hoekom wil hulle dan nie gaan nie, ouma?” Wel, dink ek by myself, tenminste het ons-ek en die skape- een ding in gemeen. Nie een van ons wil weg van die plaas nie.

My Engelse vriende sê: “Why are you so sad? Today is the beginning of a new life for you!” Verseker is dit so. Ek is nou amptelik ‘n dorpenaar en sal moet vrede maak met dié feit - muskiete ten spyt. Ek troos myself. Ten minste hoef ek nie meer dorp toe te jaag om kruideniersware te gaan koop nie. Ons hoef nie meer op ‘n Sondag kerk toe te jaag sodat ek betyds voor die orrel kan stelling inneem nie. Die plante in my tuin floreer op die vars water. Iets wat’n luukse is vir my, komende van’n brakwater-plaas.

In 1976 is die plaas Sandvlakte gekoop van tannie Anna van Onselen. Ons verhuis van Bethlehem na Beaufort-Wes waar Pieter by ‘n Ouditeursfirma werk en ‘n naweekboer word. Elke naweek word drade gespan en kampe gemaak. Ons verhuis amptelik in 1977 na die plaas (sonder elektrisiteit en water in die huis) om voltyds te boer. Die plase Katrivier en Swartrivier word bygekoop. Ons bou in 1988 ‘n nuwe huis op Swartrivier en verhuis soontoe.

Na 30 jaar in die boerdery besluit Pieter om af te skaal en verkoop Sandvlakte in 2006 aan Pierre Volschenken Katrivier aan 2 Maansgroepe in 2007.

Vroeg in 2008 stel Departement Grondsake belang om Swartrivier te koop as deel van Grondhervorming. Hierdie transaksie wat uiteindelik in Julie 2009 gefinaliseer word, was ‘n groot toets vir ons geduld wat vir agtien maande tot die uiterste toe beproef is.

Nooit weer moet daar gesê word dat die boere onwillig is om grond te verkoop aan die Staat vir grondhervorming nie. Die onbevoegdheid van amptenare en rompslomp van die staatsdiens is die oorsaak dat grondhervorming nie sy beoogde teiken haal nie.

Ons het ‘n legio van verskonings aangehoor wat die transaksie so lank vertraag het: Die persoon wat die saak hanteer is op verlof; daar was nie ‘n kworum vir vergaderings nie- so besluite kon nie geneem word nie; vergaderings is gereeld uitgestel, omdat nagelaat is om sodanige kennis te gee; geen vordering kon gemaak word nie, want al die personeellede is weg Kaap toe vir spanbou ens.

Uiteindelik word onderhandelinge Oktober 2008 hervat. Net toe ons dink nou is dit afgehandel, word daar ‘n moratorium op die koop van die plaas geplaas omdat daar nie meer geld is nie! Derhalwe moet die koop oorstaan vir die volgende begrotingsjaar (April 2009- Maart 2010).

Uiteindelik na baie navrae, word daar in Junie 2009 ‘n staatswaarborg uitgereik en kan die koop deurgaan. So gebeur dit dat die plaas op 1 Julie 2009 oorgedra word aan die Staat of te wel Departement Grondsake. Ons prokureer dien die staatswaarborg in vir betaling net om te hoor daar is nie geld om die koop deur te haak nie!

Dis nogal ‘n vreesaanjaende en benarde posisie om in te wees, om nie meer die plaas of die geld te hê nie! Gelukkig het ons prokureer dit bewerkstellig dat die geld binne 48 uur oorbetaal is. Ons moes binne 30 dae die plaas ontruim - vandaar die veiling op 29 Julie toe al die losgoed verkoop is.

Wat nogal ontstellend was, is dat die beampte van Grondsake wat in Beaufort-Wes gesetel is, opdrag gegee, dat die twee gesinne wat minder as 5 jaar daar werk die plaas moet ontruim! Gelukkig kan Oom Kerneels en “ant” Makkie wat al 32 jaar in ons diens is, aanbly.

Twaalf gelukkige kleinboere, almal van Prince Albert, gaan vir die volgende drie jaar die plaas van die staat huur teen 6% van die gemiddelde huur, waarna die plaas aan hulle oorgedra sal word, indien hulle suksesvolle boere is. Ons wens hulle net voorspoed en sukses toe met die boerdery en hoop dat die plaas hulle net so goed sal behandel as wat dit ons behandel het. Pieter is ook bereid om as mentor op te tree indien hulle raad sou nodig hê.

No comments: